LADISMITH NUUS - Die Icosa-speaker van Kannaland, Werner Meshoa, is Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof gevonnis na hy vroeër vanjaar op aanklag van bedrog en regsverydeling skuldig bevind is.
Oudtshoorn Courant het in Maart berig dat die skuldigbevinding volg op klagtes dat Meshoa in 2016, toe hy 'n Icosa-raadslid was, 'n vals vervoereis van R4 000 by die munisipaliteit ingedien het.
Volgens die eis het hy aangevoer dat hy 'n vergadering in Kaapstad van 16 tot 21 Oktober 2016 bygewoon het. Hy het egter nie die vergadering bygewoon nie.
Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, het in 'n verklaring gesê dat Meshoa verder wederregtelik opgetree het toe hy 'n vriend en familielede oortuig het om vals verklarings af te lê om hom te beskerm toe dit aan dit lig gekom het dat hy nie die vergadering bygewoon het nie.
Hulle het beëdigde verklarings afgelê dat Meshoa se voertuig onklaar geraak het en dat hy as gevolg daarvan nie die vergadering, waarvoor hy 'n eis ingedien het, kon bywoon nie.
Volgens 'n verklaring wat deur Gillion Bosman, kiesafdelingshoof van Kannaland uitgereik is, het die DA Meshoa se vonnis verwelkom.
"Hy is tot 18 maande gevangenisstraf gevonnis of hy moet 'n boete van R6 000 vir bedrog betaal. Hy is ook tot vier jaar tronkstraf vir regsverydeling gevonnis wat vir vier jaar opgeskort is. Bykomend is huisarres van 36 maande gevoeg.
"Ons is trots op raadslid Aletta Theron en Joslyn Johnson wat die klagte gedryf het en seker gemaak het dat korrupsie nie seëvier nie."
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'