KANNALAND NUUS - Werner Meshoa van Icosa, wat verlede week aan bedrog en regsverydeling skuldig bevind is, sal waarskynlik na Vrydag weet of hy in sy pos as speaker sal aanbly.
Meshoa is verlede Dinsdag, 19 Januarie, in die streekhof in Ladismith aan bedrog sowel as regsverydeling skuldig bevind.
In 'n mediaverklaring sê Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, die skuldigbevinding volg op klagtes dat Meshoa in 2016, toe hy 'n Icosa-raadslid was, 'n vals vervoereis van R4 000 by die munisipaliteit ingedien het.
Volgens die eis het hy aangevoer dat hy 'n vergadering in Kaapstad van 16 tot 21 Oktober 2016 bygewoon het. Hy het egter nie die vergadering bygewoon nie.
Hani sê dat Meshoa verder wederregtelik opgetree het toe hy 'n vriend en familielede oortuig het om vals verklarings af te lê om hom te beskerm toe dit aan die lig gekom het dat hy nie die vergadering bygewoon het nie.
Hulle het beëdigde verklarings afgelê dat Meshoa se voertuig onklaar geraak het en dat hy as gevolg daarvan nie die vergadering, waarvoor hy 'n eis ingedien het, kon bywoon nie.
Meshoa word vandag, Vrydag 29 Januarie, gevonnis.
Hy het op 4 November verlede jaar die speakerstoel van die DA se Aletta Theron afgeneem toe 'n samewerkingsooreenkoms tussen die DA en ANC op Kannaland skipbreuk gely het en die ANC besluit het om met Icosa saam te werk.
Volgens 'n DA-lid is dit 'n terugslag vir Kannaland dat die ANC die ooreenkoms met die DA verbreek het. "Sedert 2016 het ons dit reggekry om groot veranderinge aan te bring en die munisipaliteit se skuldlas te ver-minder."
Die skul-digbevin-ding is egter nog lank nie die einde van Meshoa se pos as Icosa-raadslid nie. 'n Raadslid kan sy setel as gevolg van 'n skuldigbevinding aan 'n misdaad verloor alleenlik as hy 12 maande of langer gevangenisstraf moet uitdien of as sy party sy lidmaatskap beëindig as gevolg van die misdaad.
Dawid Kamfer, provinsiale leier van Icosa, het egter telefonies gesê sy party gaan eers die reg sy gang laat gaan voordat hulle 'n besluit neem.
"Meshoa se regsproses is nog lank nie verby nie. Hy kan nog teen sy skuldigbevinding en vonnis appelleer. Ons sal eers 'n besluit oor sy lidmaatskap neem wanneer die hele proses afgehandel is." Hy het gesê Icosa sal na Vrydag 'n mediaverklaring uitreik waarin hulle besluite uiteengesit sal word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'