Breaking News
KAROO NUUS - Twee persone van George het vandag, 28 Oktober, op Facebook om hulp gevra nadat hulle reeds ongeveer drie ure in Meiringspoort vasgekeer is.
Volgens 'n vrou wat een van die plasings gemaak het, is hulle "tussen twee riviere by Meiringspoort" vasgekeer.
Die plasing lees verder dat daar drie klein kindertjies by hulle is en dat hulle geen kos of water by hulle het nie. Die ander plasing is deur 'n man gemaak. Dit is nie duidelik of die persone in dieselfde voertuig is nie.
Oudtshoorn Courant het met hulle probeer kontak maak, maar nog geen terugvoer ontvang nie.
Een van die driwwe in Meiringspoort wat oorstroom. Foto verskaf deur Petro Swanepoel.
Gerhard Otto, die hoof van rampbestuur in die Tuinroete, sê die situasie word noukeurig gemonitor.
"As die mense enigsins in lewensgevaar is sal hulle per helikopter uitgehaal word. Watervlakke styg steeds, maar ons voorsien dat dit binnekort die piek gaan bereik. Voorlopige evaluering lyk nie of daar enige groot infrastruktuur skade is nie. Die pad sal oopgemaak word sodra die watervlakke begin daal."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’