OUDTSHOORN NUUS - Die onwettige afkap van bome langs die Grobbelaarsrivier en elders in die dorp neem toe. Daar is egter onder streng voorwaardes toestemming gegee vir die verwydering van dooie bome.
Donovan Kleinhans, voorsitter van Oudtshoorn se AfriForum-tak, sê die houtkappers teiken spesifiek doringbome en verniel ook die bome.
"Hulle verkoop die hout. Dit het al gebeur dat die houtkappers op die rivier toegesak het en in die aand ook gaan hout kap het. Polisie het by geleentheid van die houtkappers met waentjies voorgekeer en tussen die stukke hout onder andere kabels gevind wat gesteel is."
Ian Avontuur, direkteur van gemeenskaps-dienste, het by monde van Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, gesê die munisipaliteit het gedurende Februarie en Maart vanjaar die Grobbelaarsrivier skoon gemaak ter voorbereiding van die jaarlikse KKNK.
"Die skoonmaak van die rivier was daarop gemik om toerisme te bevorder, asook om veiligheid en sekuriteit in die omgewing van die rivier te bevorder. Die skoonmaakprojek is ook deel van die munisipaliteit se planne om dienslewering te verbeter en 'n skoon omgewing vir ons inwoners te bevorder. Verskeie bome is as deel van die projek uitgehaal. Die munisipaliteit is genader deur verskeie individue wat die boomtakke wou opsaag vir brandhout. Toestemming is wel verleen vir die opsaag en verwydering van boomtakke wat op die rivieroewer gelê het."
Geen bestaande bome is egter deur hierdie gemelde persone afgesaag nie. Volgens Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, is die situasie tweeledig.
"Aan die een kant is wel toestemming verleen aan sekere individue om droë bome wat reeds op die grond lê, spesifiek op die oewer van die Grobbelaarsrivier tussen Vrede- en Bloemstraat, op te saag. Aan die ander kant vind daar egter onwettige houtverwydering plaas in ander dele langs die rivier, waar lewende of beskermde bome sonder toestemming afgekap word. Hierdie optrede is onwettig en dra by tot die agteruitgang van die dorp se natuurlike omgewing."
Allers sê die munisipaliteit se wetstoe-passingsbeamptes patrolleer gereeld in hierdie gebiede, maar die publiek se samewerking is van uiterste belang. Hy doen 'n beroep op inwoners om enige onwettige aktiwiteite of verdagte gedrag onmiddellik aan te meld.
"Slegs droë bome wat reeds op die grond lê, mag met toestemming verwyder of opgesaag word. Enige ander afkap van bome sonder toestemming is strafbaar," beklemtoon Allers.
Enige voorvalle kan by die munisipaliteit se kantore by 044 203 3000 gerapporteer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’