OUDTSHOORN NUUS - "Dit was 'n belewenis om 'n luiperd vier meter van my af in lewende lywe te sien." So vertel Lyndon Afrika van sy ervaring verlede Saterdagaand omstreeks 19:35 toe hy en sy familie op die gespikkelde kat in Meiringspoort afgekom het.
"Ek en my familie het vir die naweek in Prins Albert gekuier en die Saterdagaand weer teruggery Oudtshoorn toe. Toe ons naby die waterval in Meiringspoort kom het ons die jong luiperd in die middel van die pad sien sit. Ek het stadig gery, en so ook die res van my familielede wat in twee motors agter ons gevolg het.
"Ek het omtrent so vier na vyf meter voor die luiperd gestop wat ons doodluiters net aangekyk het. Wat vir my opvallend was, was dat die luiperd glad nie paniekerig was nie en heel op sy gemak vir so 'n paar sekondes gesit, opgestaan en direk in ons kar se ligte vasgekyk het."
Afrika sê dat hy op daardie oomblik opgewonde vir sy vrou, Susan, gevra het om 'n video te maak. Die video is op haar Facebook-profiel gelaai wat honderde likes en kommentare uitgelok het.
"Ek het al baie gehoor dat mense vertel hulle het al 'n luiperd in die poort gewaar, maar om dit met my eie oë te sien, was 'n ervaring wat my altyd sal bybly. Ons het 'n goeie kyk na die luiperd gekry, waarna hy rustig in die bosse ingestap het en in die donkerte verdwyn het. Die hele amazing ervaring het so 30 sekondes geduur; hopeloos te min," skerts hy.
'n Boer wat in Oudemuragie-omgewing woon sê dat dit 'n algemene verskynsel is om luiperds in die omgewing te sien.
"Ja kyk, luiperds kom en gaan maar in hierdie omgewing, en dit gaan gewoonlik gepaard met boere se vee wat ook deurloop. Ek het een omtrent so 10 maande gelede gesien waar hy met sy prooi in 'n boom gesit het. Dis nie ideaal nie, maar dis maar hoe mens en dier in harmonie saamleef met mekaar," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'