OUDTSHOORN NUUS - “Ons salueer die man van God, die filosoof, priester, skrywer en filantroop en bedank God vir ‘n voorbeeldige lewe van goedhartigheid en vrygewigheid.”
So het dr. Harlan Cloete, skoonseun van Adam Frederik (Meester Ampie) Wicomb, Saterdag sy skoonpa wat hy Pa noem, tydens sy begrafnisdiens in die Weyers Memorial United Congregational Church gesê.
“Pa neem nou sy plek in langs die ontslape dramaturg en skrywer CJ Langenhoven, ook van Oudtshoorn. En ons moet nou seker maak dat die nalatenskap van Meester Ampie Wicomb voortleef en gevier word naas dié van Langenhoven, en verder, deur sy woorde en wysheid.”
Wicomb (103), die oudste lid van die Wicomb-familie, is na ‘n kort siekbed op Maandag 19 Augustus in die MediClinic Klein Karoo oorlede.
Volgens Cloete sal sy skoonpa se tweede boekie later vanjaar op sy verjaarsdag vrygestel word en word daar ook hard gewerk aan die vrystelling van sy outobiografie.
Sy eerste boekie, Love Drops, Liefdes Druppels het in 2014 die lig gesien.
“Pa was ‘n biddende man wat gebid het vir elkeen van sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders, by die naam en adres. Hy was ‘n reus, klein van postuur, maar ‘n reus van hart wat die moed van sy oortuigings nagevolg het. Ons het ‘n Engel tussen ons gehad.”
Volgens Cloete was sy skoonpa die rots van die familie, die patriarg wie se lewe in woorde en dade verteenwoordigend was van wat dit beteken om ‘n Christen te wees en almal lief te hê.
”Pa se liefde vir mense het geen perke geken nie en hy het die mooiste gawe gehad om elkeen met wie hy kontak gemaak het spesiaal te laat voel. Pa het ook oor die gawe beskik om elkeen spesiaal te laat voel asof jy sy gunsteling is, net om uit te vind daar is ander gunstelinge ook.”
Wicomb se oudste kleinkind, Demorian Apollis, het in haar huldeblyk haar oupa as een in ‘n miljoen beskryf. “Dit was regtig ‘n groot voorreg om so ‘n man so lank by ons te kon hê.
“My oupa was seker die mees vindingryke persoon wat ek ooit geken het. Hy was ‘n “Go-to” man gewees en het ons geleer om te gee sonder om iets terug te verwag. Daar was net een Adam Frederick Wicomb. Hy was ‘n “Limited Edition” en wat hy vir ons nalaat sal geen geld in die wêreld kan koop nie”.
Die voorsitter van die Wicomb-familie se saamtrekkomitee, Jonathan Wicomb, het gesê dit voel vir hom asof die familie nou herderloos is.
Wicomb word oorleef deur sy vyf dogters, Diana, Catherine, Jennifer (Cloete) Marie (Morris) en Priscilla, agt kleinkinders, veertien agterkleinkinders en twee agter-agterkleinkinders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’