OUDTSHOORN NUUS - Lede van die Chevra Kadisha op Oudtshoorn, is op soek na familie van oorledenes wat in die Joodse begraafplaas begrawe is na 'n groot aantal grafte die afgelope twee weke beskadig is.
Die Chevra Kadisha is 'n Joodse organisasie wat toesien dat die liggame van afgestorwe Jode volgens die Joodse tradisie vir begrafnis voorberei en tot die begrafnis bewaar word.
Die Oudtshoorn Courant het die week saam met David Harris, 'n bekende in die Joodse gemeenskap, die begraafplaas besoek.
'n Groot hoeveelheid grafstene is kwaadwillig omgestamp en beskadig. 'n Hele aantal kopstukke is ook in stukke gebreek.
Volgens hom help die sandsteenmuur wat rondom die 150 jaar oue begraafplaas is, nie om die boewe uit te hou nie en het hulle 'n aantal jare gelede lemmetjiesdraad op die mure aangebring wat ook afgesteel is.
"Die vandale klim eenvoudig net oor die muur en ontlas in die begraafplaas, gooi hul vullis hier neer en vernietig die laaste rusplek van ons geliefdes. Die Joodse gemeenskap onderhou reeds etlike jare self die begraafplaas en betaal ook self vir die grafte om reggemaak te word. Die hakkiesdraad wat ons 'n paar jaar gelede opgesit het was ook op ons eie onkoste, maar dit is stuk-stuk gesteel."
Bernard Herman, woordvoerder van die Chevra Kadisha op Oudtshoorn, het die week gesê, dat dit hulle 'n klomp geld gaan kos om die grafte te herstel en dat hulle hulp nodig het.
"Ons is van plan om al die grafstene, dit is ongeveer 30 stene, te herstel. Ons volgende projek gaan wees om die grafstene plat te lê op die grafte soos ons beleid die laaste paar jaar was."
Volgens hom is die onderhoud van die begraafplaas duur en doen hulle dit sonder enige hulp van ander organisasies.
"Ons het onlangs 'n klomp bome in die begraafplaas verwyder wat kindergrafte wat uit die Groot Griep-era dateer beskadig het. Die uitgawes daar was ook redelik hoog."
Werkers het hierdie week begin om die grafstene in die Joodse-begraafplaas te herstel. Foto's: Liezl van Niekerk
Aangrensende begraafplase
Met besoek aan die Joodse begraafplaas het die Oudtshoorn Courant ook besoek aan die ou begraafplaas agter die Joodse begraafplaas afgelê. Die begraafplaas is steeds in gebruik en een van die jongste grafte wat daar is, is drie jaar oud.
Volgens inwoners in die omgewing is daar gereeld kwaaddoeners tussen die grafte en breek hulle gereeld die grafstene af.
"Dit is ook onveilig vir mense om afgestorwe geliefdes te kom besoek en maak dit ook vir ons wat hier naby woon onveilig. Hulle kruip in die begraafplaas weg en kom doen dan kwaad by die huise." Met die besoek van die koerant het 'n hawelose persoon hom op een van die grafstene tuisgemaak en twee ander wat in sy rigting onderweg was, het hulle uit die voete gemaak.
Die koerant het reeds verskeie stories gedoen oor die toestand van die begraafplase op Oudtshoorn en het die week weer 'n navraag aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur oor die sekuriteit en onderhoud van die begraafplase. Teen druktyd is geen antwoord ontvang nie.
'n Hawelose man op een van die grafstene in die begraafplaas naby Condorstraat. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'