Dit is een van die statistieke wat Dinsdag gegee is deur Simbarashe Madzana, finansiële direkteur van Meals on Wheels Gemeenskapsdienste in die Wes-Kaap.
Die Eden Meals on Wheels-tak het Dinsdag hul jaarlikse Kersete aan meer as `n honderd inwoners in die skoolsaal van Aurial-kollege aangebied.
"Madiba het vertel dat dit nie help om te praat oor demokrasie, stabiliteit en vrede as mense leë mae het nie," het Madzana vertel. "Elke 3,6 sekondes sterf `n persoon in Afrika van die honger. Elke 4,5 sekondes sterf `n persoon aan obesiteit- of verwante siektes. Meals on Wheels poog om die gaping te vernou tussen hulle wat nie het nie en hulle wat het."
Pastoor Norman Ryan, direkteur van MOW Wes-Kaap, het lof gehad vir Eddie de Jager, bestuurder van Eden MOW en sy span. "Ons is `n omgee-organisasie en ons is baie trots op die werk wat in Bridgton, Bongolethu en Dysselsdorp verrig word." Ryan het vertel dat die goeie werk dikwels ten spyte van moeilike omstandighede plaasvind. Daar word glo gekyk na `n nuwe voertuig vir Eden om hul werk te vergemaklik.
Raadslid Felicity Magxaka, het ook die geleentheid bygewoon en bejaardes gemaan om nooit stil te bly oor onregte nie. "Dit is wonderlik om, op `n dag waarop die wêreld vir Madiba herdenk, hierdie geleentheid saam met julle te geniet. Kom ons vat mekaar se hande, kom ons laat ander toe om ons hande te vat en ons te help."
`n Groot aantal inwoners het Meals on Wheels se Kersete hierdie week geniet.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'