OUDTSHOORN NUUS - Maureen Wicomb (80), vrou van die bekende vryskutjoernalis, Garnett Wicomb, is verlede Saterdag na 'n lang siekbed oorlede. Die paartjie sou September vanjaar 59 jaar getroud gewees het.
Wicomb was ten tyde van sy vrou se dood in Turkye waar hy aan 'n internasionale tennistoernooi deelgeneem het.
Hy vertel dat sy die afgelope week in Mediclinic Klein Karoo opgeneem was.
"Ongeag die feit dat sy vir 'n ruk lank nie wel was nie, het dit haar nie ondergekry nie en was sy steeds 'n vrou wat 'n lus vir die lewe gehad het. Ek sal haar onthou as 'n uitgesproke persoon wat altyd haar sê gesê het. Sy was ook by uitstek 'n gemeenskapsmens veral wat toerisme betref. Entrepreneurskap en om vroue oor die algemeen te bemagtig, was haar passie. As my lewens-maat en gesin gaan ons haar vreeslik mis."
Intussen getuig honderde boodskappe van medelye oral op sosiale media van die geliefde mens wat sy was.
Sy word oorleef deur vier kinders Elroy, Maurice, Liesle ene Nevenia met 13 kleinkinders en drie agter-kleinkinders.
Daar sal vanaand (Woensdag 20 Maart) 'n troosdiens by die Weyers Memorial Congregational Church gehou word.
Die begrafnis is 08:00 Saterdag by die huis in Proteastraat 23 en vanaf 09:00 by die Weyers Memorial Congregational Church.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’