OUDTSHOORN NUUS - Matrikulante wag angstig op hul matriekuitslae wat Dinsdag 14 Januarie deur die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, bekendgemaak word.
Leerders kan vanaf 10:00 hul uitslae by hul onderskeie skole kry.
Matrikulante wat vraestelle wil laat hermerk kan hiervoor aansoek doen vanaf 14 tot 28 Januarie, en geen laat aansoeke sal aanvaar word nie.
Wie kwalifiseer?
Kandidate mag aansoek doen vir 'n hermerk of hersien van 'n vraestel indien hulle voel dat die punte wat hul gekry het nie 'n ware weerspieëling van hul prestasie is nie.
• 'n Hermerk van vraestel behels dat die oorspronklike vraestel heeltemal hermerk word deur 'n merkbeampte.
• Om 'n vraestel te laat hersien behels om na te gaan dat alle vrae wel gemerk is en die uitslae korrek bereken is.
• Matrikulante moet kennis neem dat Lewensoriëntering nie in aanmerking kom vir 'n hermerk of hersiening nie.
• Leerders wat voltyds geregistreeer is by skole waar nie skoolfonds betaal word nie, mag gratis aansoek doen om vraestelle te laat hersien of hermerk.
Koste
• Koste vir die hermerk beloop R120 per vak.
• Koste vir die besigtiging van die antwoordstel beloop R230 per vak en nie terugbetaalbaar nie.
• Hersiening van vraestelle nadat dit hermerk en nagegaan is beloop R30 per vak.
Betaling
Betaling moet elektronies gedoen word in die volgende lopende-bankrekening:
Rekeninghouer: WCED
Bank: Nedbank
Rekeningnommer: 1452 045 089
Taknaam en -kode: Nedbank Corporate, 145 209.
As verwysing kan een van die volgende opsies gebruik word:
• Eksamennommer en jou identiteitsnommer
• Hermerknommer en identiteitsnommer
Hoe om aansoek te doen
• Geen harde kopie aansoeke sal aanvaar word nie, slegs aanlyn aansoeke sal oorweeg word. Die matrikulant moet elektronies aandui of die aansoek 'n hermerk of hersiening behels. Aansoek hiervoor kan by www.eservices.gov.za gedoen word.
• Matrikulante moet kennis neem dat 'n selfoon nie hiervoor gebruik kan word nie, slegs 'n skoot- of lessenaar-rekenaar en moet Google Chrome weblaaier gebruik word.
• Maak seker alle nodige stappe voltooi is voordat jy jou aansoek indien.
• 'n PDF bewys van betaling moet ook op die platform ingedien word.
Terugbetaling
'n Terugbetaling sal slegs gedoen word indien die vak-resultate verbeter of jou slaagstatus verander nadat die vraestel hermerk of hersien is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’