OUDTSHOORN NUUS - Nie net het Oudtshoorn voorverlede naweek die welkome reëntjie met ope arms ontvang nie, maar ook matrieks en onderwysers van 1969 aan Hoër Handelskool Langenhoven wat vandag Langenhoven Gimnasium is. Hulle het hul 50 jaar reünie met die tema 'Summer of '69' gevier.
Reüniegangers vanuit alle uithoeke van die land het op Donderdag 24 Oktober by Smitswinkel bymekaargekom.
Oor die naweek het ses onderwysers en 28 matrieks met gades en genooide gaste aan die reünie deelgeneem.
Vrydagoggend het Johan Koorts, Petro Collins en Mariette Meiring, wat die reëlings getref het, Langenhoven Gimnasium besoek en die skoolhoof, Stephanus Potgieter, ontmoet.
Vrydagaand was die amptelike verwelkomingsfunksie en die res van die naweek is Cango Volstruisplaas, die NG Kerk Moedergemeente en Fosters Manor besoek. Die ou herehuis was in die 1960's Huis Voorwaarts waar dogters gehuisves is.
Saterdag is daar ook geskenkpakke aan inwoners van Bellinganhof-tehuis vir bejaardes, oorhandig en die aand is met 'n ete en 'n dans afgesluit.
Die naweek se verrigtinge is Sondagoggend afgesluit met 'n geestelike byeenkoms gevolg deur ontbyt.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'