OUDTSHOORN NUUS - 'n Man met dissipline, vasberadenheid, lewenslus en sport in sy are: Dit is Vusi Marenene (43), bekende inwoner en voormalige polisieman van Oudtshoorn wat tans sy oog het op die 2028 Paralimpiese Spele in Los Angeles, Amerika.
Marenene was 'n bekende in fietsrykringe in die dorp, maar sy lewe het drasties verander na 'n motorongeluk in Februarie 2022. Hy het hierna die gebruik van sy bene verloor en kon nie meer fietsry nie Dit het hom egter nie gekeer nie en hy het onmiddellik omgeskakel van gewone fietsry na 'n spesiale handfiets vir gestremdes.
"Fietsry was nog altyd 'n integrale deel van my lewe en dit bly 'n onwrikbare passie ten spyte van die uitdagings wat ek in die gesig staar."
Voor die ongeluk het hy homself as 'n hoogs mededingende atleet gesien, wat uitblink in fietsry, hardloop en swem. "In my rol as 'n afrigter binne die wetstoepassingsomgewing het ek by verskeie fiksheidsaktiwiteite en kompetisies betrokke geraak. Ek het die voorreg gehad om die nasionale span van die polisie in beide padfietsry en bergfietsry te verteenwoordig en het talle medaljes en toekennings vir my prestasies ontvang."
Nou as gestremde atleet laat hy hom steeds nie stop om sy passie vir fietsry te beoefen nie.
"Ek het aktief aan verskeie uithourenne deelgeneem, my fisieke grense verskuif, en het onlangs deelgeneem aan 'n handfietsgeleentheid wat oor Suider-Afrika lande gestrek het. Hierdie ervaring het motivering en ambisies aangevuur om 'n parafietsryer op nasionale vlak te word."
Deur die reis het hy krag gevind en geleer om respek binne die atletiekveld te werf. "Ek staar egter steeds voortdurend uitdagings in die gesig om by my nuwe werklikheid aan te pas."
Dit sluit finansiële ondersteuning vir die verkryging van die nodige toerusting om hom in staat te stel om onafhanklik te wees in die sport.
"Ek is vol vertroue dat ek in 2028 my land by die Paralimpiese Spele gaan verteenwoordig."
Ten slotte wil hy graag kwadrupleë, asook mense sonder gestremdhede aanmoedig om hul doel in die lewe te vind en dit na te jaag.
"Daar is 'n lewe nadat jy in 'n rolstoel opeindig en om positief en gefokus op jou doel te bly help baie."
Hy voel dat persone sonder gestremdheid baie kan leer by mense soos hy.
"Selfs normale mense wat aan depressie ly of op moedverloor se vlakte sit moet nie opgee nie, daar is 'n lewe vir almal."
Hy glo deur jou kop besig te hou en jou liggaam gesond en fiks, enige gestremde 'n vol lewe kan ly."
Marenene is getroud met Liya en het die egpaar drie kinders, 'n dogter en twee seuns wat bankvas agter hom staan. Hy is tans 'n voltydse atleet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’