OUDTSHOORN NUUS - Die 30ste Optimum Meiringspoort-halfmarathon het die afgelope naweek plaasgevind en weereens duisende mense gelok wat aan die ikoniese wedloop deelgeneem het.
Dit is egter nie net 'n gewone marathon nie, maar 'n jaarlikse instelling van 'n groepie De Rusters om op 'n tasbare wyse 'n verskil in ander se lewens te maak. Die marathonkomitee werk regdeur die jaar om die byeenkoms tot in die fynste besonderhede te beplan. Deel van hierdie jaarlikse geleentheid is die verkoop van lootjies teen R50 elk, wat dan ingesamel word om aan verskeie liefdadigheidsorganisasies geskenk te word.
Hannerie Delport, een van die hooforganiseerders, het met trots aangekondig dat hulle vanjaar daarin geslaag het om meer as R95 000 in te samel. Hierdie fondse sal aan twee instansies geskenk word: Die Herberg-kinderhuis in Robertson en De Rust Animal Health Trust.
Die wenners van die lootjie-trekkings het weggestap met pragtige pryse, insluitend 'n skildery deur die bekende kunstenaar Glendine van De Rust, 'n ¼ Krugerrand, en 'n skildery van die gevierde kunstenaar Paul Treleven.
Deelnemers het ook die geleentheid gekry om Fleece-kombersies te koop, of om hul eie saam te bring om hulle in die ysige oggendkoue in die poort warm te hou voor die wedloop begin. Hierdie komberse word dan by die beginpunt gelos en deur vrywilligers opgetel om later geskenk te word aan instansies wat skenkings benodig. Die ontvangers van vanjaar se komberse is nog nie aangekondig is nie, maar instansies soos Carpe Diem in George, Eljada Kairos in Oudtshoorn en die Oudtshoorn-diereherberg het in die verlede by die skenkings gebaat.
Die Optimum Meiringspoort-halfmarathon bly 'n geliefde gemeenskapsgeleentheid wat die gees van eenheid en medemenslikheid vier, terwyl dit terselfdertyd 'n merkwaardige verskil in die lewens van behoeftige mense en diere maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’