Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) nooi hierdie maand mans uit om verantwoordelikheid vir hul gesondheid te neem deur gebruik te maak van die kankersiftingstoetse wat by Kansa-sorgsentrums beskikbaar is.
Die vyf mees algemene kankers wat mans affekteer is prostaat-, kolorektale-, long-, nie-Hodgkin-limfoom- en blaaskanker.
Gerda Strauss, KANSA se hoof van dienslewering, sê dit is nie moontlik om vir al die kankertipes te toets nie, maar mans kan gebruik maak van die siftingstoetse wat wel beskikbaar is.
"Mans hoef nie vir ingrypende siftingstoetse bang te wees nie; 'n eenvoudige Prostaatspesifieke Antigeen (PSA) bloedtoets kan prostaatspesifieke antigeenvlakke vasstel asook of mans in gevaar van prostaatkanker is.
Vroeë opsporing verbeter die resultate van behandeling, so ons moedig mans bo 40 jaar aan om nie te uit te stel nie, veral as dit in die familie is."
Volgens haar is nog iets om in gedagte te hou, dat die kans vir prostaatkanker moontlik verhoog wanneer daar 'n familiegeskiedenis is van vroulike familielede (ma's, oumas of susters) wat met borskanker gediagnoseer was.
Op Oudtshoorn kan mans die PSA-toets teen R80 by die Quick Care Clinic in St. Johnstraat laat doen.
Volgens Adri Odendaal, gemeenskapsmobiliseerder van Kansa, is dit 'n vingerpriktoets wat deur die susters gedoen word.
"Indien daar dan 'n abnormaliteit in jou bloed is word jy na 'n dokter vir verdere toetse verwys."
Afsprake kan by die kliniek self gemaak word. Skakel 044 272 0031. Vir verdere navrae skakel Odendaal by 072 133 0444.
Vorige artikel: Mannemaand by Kansa
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'