OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Lategansvlei het verlede week op Mandeladag weer oudergewoonte ingespring om ook hul 67 minute van gemeenskapswerk te verrig.
Volgens een van die organiseerders, Dario Urbanski, was vanjaar se taak om die sportveld silwerskoon te maak.
Urbanski sê dat sowat 60 inwoners met die projek betrokke was waarna daar 'n heerlike ete vir die helpende hande deur Luzet Reuter en Vreda Lategan voorgesit was.
Tydens die geleentheid was die sportveld se splinternuwe solarstelsel ook ingehuldig wat deur die Dr. Rau-stigting en die Union Berlin-stigting geborg is.
Urbanksi vertel trots dat hierdie solarstelsel hulle nou onafhanklik van Eskom maak. Met verloop van die verrigtinge was daar ook 'n konsert op die verhoog gehou met die kunstenaar Angela Kotze van Calitzdorp wat die gehoor vermaak het.
"Groete-video's uit Duitsland, Switserland en Frankryk is ook op 'n grootskerm vertoon. Dit was voorwaar ´n lekker dag hier in Lategansvlei wat in eer van oudpresident Nelson Mandela gehou was," het Urbanski gesê.
Inwoners van Lategansvlei het hande gevat om Lategansvlei se sportterrein silwerskoom te maak. Foto's: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’