PRINS ALBERT NUUS - ’n 31-jarige man is Woensdag, 22 September, in die Oudtshoorn-streekhof aan verkragting en aanranding van 'n vrou skuldig bevind. Vonnisverrigtinge is tot Oktober uitgestel.
Denzil Morris het onskuldig gepleit op aanklag dat hy op 20 Augustus 2020 die 30-jarige vrou in sy woning verkrag en haar ook met 'n kapmes gesteek of gesny het.
Die vrou het getuig dat sy die betrokke aand saam met ‘n vriendin, Sophia Matolla, onderweg was na ‘n kafee toe Morris sy verskyning “uit die bloute” gemaak, haar gegryp en gedwing het om saam met hom na sy hok te gaan. Matolla het met haar baba weggehardloop en die polisie geskakel.
Morris het die klaer na sy blyplek op die erf van sy moeder gesleep.
Hy het haar op sy bed neergegooi, uitgetrek en twee keer verkrag nadat hy die deur gesluit het.
Hy het haar met die dood gedreig en gedwing om die nag by hom te slaap. Niemand het haar hulpkrete gehoor nie en sy kon eers die volgende oggend, met ‘n verskoning dat sy moes gaan werk, na die polisie en hospitaal gaan.
Morris het erken dat hy seks met haar gehad het en dat dit met haar toestemming was.
Die hof het bevind dat die klaer ‘n goeie indruk op die hof gemaak het en haar getuienis nie met kruisondervraging afgebreek is nie.
Volgens die landdros sou die klaer nie beserings opgedoen het indien sy tot seks ingestem het nie. Die hof het ook bevind dat ‘n groot vraagteken oor die getuienis van die beskuldigde se ma hang.
Vonnisverrigtinge is op versoek van Morris se regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith, vir ‘n korrektiewe toesigverslag tot 26 Oktober uitgestel. Morris bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'