Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Oudtshoorn wat 'n polisie-beampte probeer omry het en skuldig bevind is op vier aanklagte naamlik poging tot moord, roekelose bestuur, bestuur sonder 'n rybewys en verontagsaming van instruksies van 'n polisiebeampte, is verlede Dinsdag in die streekhof gevonnis.
Vernon Damakwa (34) het op 30 Mei 2019 naby die Bongolethu-polisiestasie probeer om 'n polisiebeampte, konst. Jacques van Zyl, om te ry wat hom gewys het om stil te hou nadat die polisie inligting ontvang het dat daar dwelms in sy VW Citi Golf is.
Hy is agternagesit en verder af in Dassie-weg in hegtenis geneem nadat hy die voertuig tot stilstand gebring en probeer weghardloop het.
Damakwa is skuldig bevind op die aanklagte van roekelose bestuur en bestuur sonder 'n geldige rybewys, maar onskuldig op die twee ander aanklagte.
Van Zyl het getuig dat Damakwa by die stopstraat stilgehou en daarna teen 'n vaart op hom afgepyl het.
Hy sou hom doodgery het as hy nie uit die pad gespring het nie.
Volgens hom het Damakwa toe aan die verkeerde kant van die pad aangery en aankomende verkeer moes wegswaai om botsings te voorkom. Volgens hom moes hy met die hulp van omstanders 'n beseerde persoon help om onder die voertuig uit te kom.
Volgens nog 'n polisiebeampte, ao. Anton Nel, het hy in 'n polisievangwa oorkant die pad gesit en gesien hoedat sy kollega moes wegspring om nie raakgery te word nie. Damakwa is agternagesit en naby Smartie Town in hegtenis geneem.
Volgens Damakwa se regsverteen-woordiger, adv. Benito Metembo, het Van Zyl nie voor Damakwa in die pad gestaan nie. Damakwa het erken dat hy vinnig gery het, maar nie aan die verkeerde kant van die pad nie.
Volgens hom was dit die polisie wat aan die verkeerde kant van die pad gery het om hom te probeer keer.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof gevra om Damakwa se verweer te verwerp en hom op al die aanklagte skuldig te bevind.
Metembo het vir Damakwa se vryspraak op die aanklag van poging tot moord en versuim om instruksies van 'n polisiebeampte na te kom gevra omdat die weergawes van die twee polisiebeamptes hemelsbreed verskil en die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Damakwa se getuienis as vals verwerp en bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.
Die hof kon geen rede vind waarom die twee polisiebeamptes se getuienis nie aanvaar kan word nie. Volgens die landdros was die eerbare ding vir Damakwa om net stil te hou en sy samewerking soos 'n gehoorsame landsburger te gee.
Damakwa is vir poging tot moord vyf jaar gevangenisstraf, ingevolge Art. 276 (1) (i) opgelê, en vir roekelose bestuur 'n boete van R3 000 of ses maande gevangenisstraf wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Die twee ander aanklagte is vir vonnis saamgeneem en Damakwa is daarvoor 'n boete van R 2 000 of drie maande gevangenisstraf opgelê wat ook in geheel vir drie jaar opgeskort is.
Die hof het ook gelas dat hy nie bevoeg is om 'n vuurwapenlisensie te besit nie.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'