Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Oudtshoorn, wat van poging tot moord, roekelose en/of nalatige bestuur en bestuur sonder 'n rybewys aangekla word, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vir sy eie getuienis tot 14 September uitgestel.
Die Vernon Damakwa (34) het glo op 30 Mei 2019 naby die Bongolethu-polisiestasie probeer om 'n polisiebeampte om te ry.
Die polisiebeampte het hom gewys om stil te hou nadat die polisie inligting ontvang het dat daar dwelms in sy Citi Golf is. Hy is agternagesit en verder af in Dassieweg in hegtenis geneem nadat hy die voertuig tot stilstand gebring en probeer weghardloop het.
Konst. Jacques van Zyl het Maandag getuig dat Damakwa by die stopstraat stilgehou het en daarna teen 'n vaart op hom afgepyl het en hom sou doodry as hy nie uit die pad gespring het nie.
Volgens hom het Damakwa toe aan die verkeerde kant van die pad aangery. Aankomende verkeer moes wegswaai om botsings te voorkom. Volgens hom moes hy met die hulp van omstanders 'n beseerde persoon help om onder die voertuig uit te kom.
Volgens nog 'n polisiebeampte, ao. Anton Nel, het hy in 'n polisievangwa oorkant die pad gesit en gesien hoedat sy kollega moes wegspring om nie raakgery te word nie. Damakwa is agterna gesit en naby Smartie Town in hegtenis geneem.
Volgens Damakwa se regsverteen-woordiger, adv. Benito Metembo, sal hy getuig dat Van Zyl nie voor hom in die pad gestaan het nie. Hy sal erken dat hy vinnig gery het, maar nie aan die verkeerde kant van die pad nie. Volgens hom was dit die polisie wat aan die verkeerde kant van die pad gery het om hom te probeer keer. Damakwa sal ook getuig dat hy "sommer elke keer" deur die polisie voorgekeer en verneder word. Dit is die rede waarom hy besluit het om weg te ry.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla.
Vorige artikel: Man probeer glo polisieman omry
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'