OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Oudtshoorn wat 'n kind herhaaldelik verkrag het, is in die Oudtshoorn-streekhof vir 18 jaar tronk toe gestuur. Die 36-jarige Willem Boshoff het die dade tussen 2011 en 2014 gepleeg wanneer die kind se ma gaan werk het.
Sy was ten tyde van die eerste voorval agt jaar oud. Die voorvalle het in die huise van sy ouma op Oudtshoorn en sy vriendin op Dysselsdorp plaasgevind. Die staatsaanklaer, Nadia le Roux, het die hof vir 'n lang gevangenisstraf gevra omdat Boshoff sy vertrouensposisie misbruik het.
Sy weergawe van gebeure was leuenagtig en nie redelik waar nie. Boshoff se algehele ontkenning dat hy kwansuis sekere voorvalle nie kan onthou nie is deur streeklanddros Daniël Boks verwerp.
Die kind se getuienis is as geloofwaardig bevind en die feit dat sy nie onmiddellik na die eerste voorval dit aan haar moeder oorgedra het nie, kan nie teen haar gehou word nie, het die landdros bevind.
Boshoff is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'