OUDTSHOORN NUUS - Die man wat 'n eenjarige kleuter op Oujaarsaand verlede jaar aan die arm rondgeswaai het, en ook gedreig het om die kind op die teerpad neer te gooi, se saak is op 27 Maart finaal na die Oudtshoorn-streekhof oorgeplaas.
Die 31-jarige man het vier vorige veroordelings van geweld teen hom, waarvan een in 2022 plaasgevind het.
In 'n video wat in Oudtshoorn Courant se besit is, word duidelik gesien hoe hy die kleuter hardhandig rondpluk en dreigemente maak terwyl omstanders probeer om die kleintjie by hom af te neem.
Hy is deur die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings in hegtenis geneem nadat 'n video van die voorval soos 'n veldbrand op sosiale media versprei het.
Die man word van aanranding met die opset om ernstig te beseer, aangekla.
Die saak is deur landdros Stephanie Strydom na die streekhof oorgeplaas en die beskuldigde bly in aanhouding.
Die saak is tot 11 April uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’