LADISMITH NUUS - "Geen borgtog vir die man nie. Hy is geen normale persoon nie, sluit hom toe en gooi die sleutel weg."
Dit was die boodskap van ’n groep ontstelde vroue buite die landdroshof in Ladismith waar 'n 26-jarige man verlede week op aanklag van verkragting verskyn het.
Volgens Christina Willemse, die woordvoerder van die groep betogers buite die hof, het die man na bewering vroeër die maand sy eie ma verkrag.
Sy het vertel dat die beskuldigde na bewering eers die kêrel van sy ma met ’n gebreekte bottelkop gesteek het en haar toe kaal uitgetrek het.
Hy het haar glo daarna verkrag en toe bo-oor haar gekniel met ’n mes teen haar bors en haar forseer om ander seksuele dade met hom te pleeg.
Die saak is verlede Woensdag tot 14 Junie uitgestel en hy bly in aanhouding.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, ondersoek die Oudtshoorn- gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings (FCS) die saak.
Landdros Dmitri Mitchell, het gesê gesinsgeweld is besig om ’n kopseer in die streek te word en swaar strawwe kan, met die voorlê van regte bewyse, opgelê word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’