OUDTSHOORN NUUS - 'n Man wat Maandagoggend saam met sy agtjarige dogtertjie skool toe gestap het, is gelukkig om te leef na hy deur 'n onbekende man in Baron van Reedestraat met 'n mes aangeval is.
Mario Pretzer vertel dat hy oudergewoonte saam met sy dogtertjie skool toe gestap het.
"Ons het verby 'n man geloop wat die heeltyd sit en vloek het. Ek het vir my dogtertjie gesê sy moet net aanstap en dit ignoreer. Toe ons by die woonstelle op die hoek van St. Savour en Baron van Reedestraat kom, het ek skielik gevoel hoe iemand se hand in my gatsak probeer grou en toe is dit dieselfde man."
Petzer sê hy het sy dogter gevra om eenkant toe te staan en hy en die onbekende man het toe in 'n geveg op die sypaadjie betrokke geraak.
"Ek het net geweet ek moet my kind beskerm. Ons almal bid mos maar dat ons kinders nooit in sulke situasies betrokke sal wees of dit sal sien gebeur nie, maar ongelukkig was sy by."
Petzer sê die booswig kon gelukkig niks by hulle steel nie en hy het ook nie ernstig seergekry nie.
"Dit is net my een vinger, maar ek is so bang dat die insident emosionele merke op my kind gaan los."
Tanya Pretzer, Pretzer se vrou, sê dit is die derde keer wat so iets met hulle as gesin gebeur.
"My man is so 'n paar maande terug voor Capitec in Hoogstraat ook beroof. Toe het hulle al ons huurgeld gesteel. Ek is ook in die jaar met 'n mes gedreig. Ons dorp is eenvoudig nie meer veilig nie."
Volgens die egpaar deel hulle hul storie sodat die gemeenskap bewus kan wees van hoe groot die misdaadprobleem in die dorp werklik is.
"Mense moet wakker wees as hulle in die dorp loop, veral met kinders. Enigiemand kan 'n teiken wees. Ons lees en hoor deesdae van so baie mense wat aangeval word, ek hoop die storie bereik die regte mense."
Volgens haar is klagtes by die polisie aangemeld, maar is niemand tot dusver in hegtenis geneem vir enige van die voorvalle nie.
'n Navraag is aan die polisie gestuur, maar hulle het teen druktyd nog nie gereageer nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'