OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Bongolethu is in die Oudtshoorn-streekhof aan moord op sy saamleefmaat van vier jaar skuldig bevind. Vonnisoplegging is uitgestel tot later die maand.
Xolile Blom (37) is daaraan skuldig bevind dat hy vir Cornelia Hendricks, 'n ma van drie kinders, op 2 Februarie 2020 met 'n mes in die nek gesteek het.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Blom as 'n leuenaar beskryf omdat hy verskillende weergawes van die dag se gebeure gegee het. Sy verklaring aan die polisie verskil ook van sy getuienis in die hof.
Blom het getuig dat hy en die oorledene in 'n woordewisseling was omdat hy vroeër die dag saam met vriende bier gaan drink het.
Die oorledene was besig om groente te skil en wou hom glo met die mes steek. Hy het gekeer en later die mes by haar afgeneem.
Hy kon egter nie verduidelik hoe die oorledene die steekwond opgedoen het nie en net gesien sy bloei.
Sy het by die huis uitgehardloop en in die straat inmekaargesak.
'n Dokter het getuig dat die steekwond met erge geweld toegedien is en nie 'n ongeluk kon gewees het nie. Die hof het bevind dat Blom en die oorledene die enigste persone in die huis was en hy die enigste een kon wees wat haar met die mes gesteek het.
Sy regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het betoog dat hoewel hy meer as een weergawe gegee het dit nie 'n beplande moord was nie.
"Dit is iets wat op die ingewing van die oomblik gebeur het en alhoewel alkohol betrokke was is dit nie 'n verskoning nie," het Botha gesê. Die beskuldigde versoek die hof om 'n opgeskorte vonnis, maar dit sal volgens Botha nie die regte boodskap uitstuur nie.
Volgens die staatsaanklaer, Brandon Smith, kan die erns van die misdaad nie oorbeklemtoon word nie.
"Die beskuldigde moes haar beskerm en liefhê, maar het dit nie gedoen nie."
Volgens Smith sal geen vonnis die oorledene terugbring nie en die hof versoek om die maksimum vonnis van 20 jaar te oorweeg maar nie minder as 15 jaar op te lê nie.
Die saak is vir vonnis uitgestel tot 25 Mei en Blom se borgtog van 'n R1 000 is tot dan verleng.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'