OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk 'n bloedige aanloop tot die maand van liefde te wees na daar reeds vier moorde sedert 26 Januarie tot 2 Februarie op Oudtshoorn aangemeld is.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is die jongste voorval Sondag in Bongolethu aangemeld.
"Cornelia Hendricks (47) is in die nek met 'n mes gesteek. Sy het Sondag in die hospitaal aan haar beserings beswyk en haar lewensmaat, Xolile Blom (35), is vir haar moord in hegtenis geneem. Die mes waarmee sy gesteek is, is in die huis gevind."
Helena Ayford (49) is Saterdag met 'n mes in haar rug in Peperstraat gesteek na daar na bewering 'n argument tussen Ayford en die verdagte was. Johan Afrika (51) is vir haar moord in hegtenis geneem.
Denzil Tarentaal (24), 'n jongman van Smartie Town is verlede Donderdag van sy lewe ontneem nadat hy deur 'n vriendin, drie keer met 'n mes gesteek is.
'n Ooggetuie het aan die Oudtshoorn Courant vertel die oorledene die Woensdagaand by hom oorgeslaap het nadat hulle gedurende die dag saam gekuier het.
Die vriendin, wat Tarentaal na bewering doodgesteek het, en haar vriende het die Donderdagoggend by die ooggetuie se woning opgedaag waarna hulle almal saam gekuier het.
Die ooggetuie het gesê dat hy gesien het dat die vriendin Tarentaal aanvanklik op die bo-been gesteek het. "Ek het eers gedink dat dit 'n speletjie is. Sy het egter Denzil vir 'n tweede keer op sy ken gesteek en dis toe dat ek besef het dat sy ernstig is. Ek het haar gevra waarom sy dit doen waarop sy geantwoord het dat Denzil haar uittart. Sy het hom vir 'n derde keer op sy bors gesteek waarna hy probeer weghardloop het."
Volgens die ooggetuie het Tarentaal sowat 20 tree gehardloop voordat hy geval het en nie weer opgestaan het nie. Die oorledene se ma, Katrina Tarentaal, het haar seun as 'n stil persoon met 'n goeie sin vir humor beskryf. "Hy het nie 'n konfronterende geaardheid gehad het nie en ek is dus nie verbaas dat hy nie 'n vinger verroer het om homself te verdedig nie." Tarentaal word deur sy 5-jarige dogter, Denolene Smith oorleef. Sonia Arries is vir die moord in hegtenis.
Christonaldo Ewerts is op 26 Januarie ook met 'n mes gesteek nadat hy en die verdagte Christolene Swartbooi (23) in 'n onderonsie betrokke was. Visser sê Ewerts het na bewering Swartbooi in haar bobeen met 'n mes gesteek. Sy het glo terugbaklei en hom net bo die hart gesteek.
"Al die verdagtes het Maandag op aanklag van moord in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'