OUDTSHOORN NUUS - ’n Man van die Paarl, wat vyf jaar gelede ‘n ongeluk op die Calitzdorp-pad veroorsaak het waarna sy vrou en hul twee seuns gesterf het, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof op drie aanklagte van strafbare manslag skuldig bevind. Vonnisverrigtinge is tot 27 Maart uitgestel.
Gary September (38) sê in sy pleitverduideliking dat hy en sy gesin op 17 Januarie 2018 in sy bakkie vanaf die Warmbad Spa na Calitzdorp onderweg was, toe die voertuig die pad verlaat en gerol het. Sy vrou, Estelle Adams (35), en hul twee kinders, Dayle John-Lee Adams (12) en Gary September (8), is dood.
September ontken dat hy roekeloos bestuur het, maar wel nalatig was. Die staatsaanklaer, Thuba Nyamati, het September se pleit aanvaar en hy is soos aangekla skuldig bevind.
Streeklanddros Ntsoki Moni het vonnisoplegging vir proefbeampte- en korrektiewe verslae wat deur September se regsverteenwoordiger, Sakkie Crouwkams, aangevra is, uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’