OUDTSHOORN NUUS - 'n Pa wat sy vrou en kind uit 'n brandende struktuur in Coetzeelaan, Bridgton, gered het, is tans saam met sy vrou in die hospitaal waar hulle vir brandwonde behandel word.
Jenseel (Jason) Ekstraal het Sondagoggend alles in sy vermoë gedoen om seker te maak sy vrou, Kim-LeeAnn, en hul driejarige seuntjie is veilig voor hy deur die venster van hul brandende woning kon uitkom.
Henrita Rothman, Kim-LeeAnn se ma, sê die ouerpaar en hul drie seuns, onderskeidelik nege, drie en een maand oud, woon in haar erf in 'n opslaanhut. Slegs die driejarige was ten tyde van die brand by die huis. Die ander twee het by familie geslaap. Die driejarige is nie beseer nie.
"Ek het nie eens geweet dit brand nie. Ek het wakker geword om badkamer toe te gaan toe sien ek die rook en vlamme. Ek het die ander mense gaan wakker maak."
Rothman sê die gesin het al hulle besittings verloor.
"Die kinders se klere, geboortesertifikate, identiteitsdokumente, meubels, alles wat hulle besit het, is heeltemal vernietig."
Volgens haar woon die kinders tans by familie tot die ouers ontslaan is.
"Ek weet nog nie waar hulle gaan woon as die ouers eers ontslaan is nie."
Jenseel het Maandag aan Oudtshoorn Courant gesê dat hy 'n operasie aan sy linkerhand ondergaan het.
"Beide my hande het in die brand seergekry, maar my linkerhand is die ergste. Ek is nie seker wat hulle in die operasie gedoen het nie. My vrou het brandwonde aan haar arms, bene en gesig opgedoen."
Volgens hom het 'n kortsluiting vermoedelik die brand veroorsaak.
"Ek het wakker geword en toe was daar reeds vlamme in die huis. Ek het eers my seuntjie by die venster uitgehelp en toe my vrou. Ek is net dankbaar my kind het niks oorgekom nie."
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê geen gemene spel word vermoed nie.
Enigiemand wat die familie wil help kan Rianhilda Rothman by 065 684 6943 skakel.
Jenseel (Jason) Ekstraal en Kim-LeeAnn Ekstraal
Die opslaanhut nadat dit tot op die grond afgebrand het. Foto: Liezl van Niekerk
Dit wat oorgebly het van die Ekstraal-gesin se woning word na die brand opgeruim. Foto: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'