Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Inwoner van Bridgton, Klaas Simmers (40), is Maandagaand op die hoek van Jamakaai- en Avontuurstraat met 'n mes doodgesteek.
Volgens 'n ooggetuie, was die oorledene op pad winkel toe, waar hy deur die verdagte ingewag is.
Die ooggetuie het aan Oudtshoorn Courant gesê dat die verdagte blykbaar gesê het, "hier is jy nou", voordat hy 'n mes uitgepluk het en die oorledene een keer in die bors gesteek het.
Volgens sy skoonsuster, Loretta Moos, was Klaas en sy vermeende aanvaller vroeër die dag ook in 'n woordewisseling betrokke.
"Klaas is die oggend na die poskantoor om sy Covid-19-verligtingstoelaag te gaan haal. Toe hy terug kom uit die dorp het ek gesien dat hy en die messteker in die pad stry. Ek het toe gesien dat die steker en sy tjommie begin om Klaas te steek. Hy het gelukkig die houe met sy rugsak afgekeer en net aangestap huis toe. Klaas het nie eers teruggepraat of iets nie," het Moos gesê.
Die oorledene se suster, Cathleen Simmers, vertel dat sy later dieselfde middag saam met haar broer winkel toe gestap het om vir hom toiletware te gaan koop.
"Hy het omtrent so 10 treë voor my geloop toe ek sien hoe 'n jongerige man hom een keer in sy bors steek en toe weghol. Klaas het dadelik inmekaargesak terwyl die bloed gespuit het. Ek vermoed hy is met 'n dolk gesteek, want daar was net te veel bloed. Hoe steek jy iemand helder oordag in die teenwoordigheid van almal? Dis regtig wreed om te sien hoe iemand jou broer voor jou oë vermoor. Ek het gisteraand nie 'n oog toegemaak nie - al wat ek sien is die prentjie wat voor my afspeel en hoe my broer doodgesteek word."
Sy het haar boer as nie-gewelddadige mens beskryf wat selfs sy kos met die hond gedeel het. Die begrafnis is Saterdag 09:00 by die huis te Mullerstraat en 10:00 by die kerk.
Klaas was ongetroud en word deur sy dogter, Meagan, oorleef.
Sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het by navrae aangedui dat 'n 22-jarige man op aanklag van moord in hegtenis geneem is.
Klaas Simmers.
Vorige artikel: Man met mes doodgesteek
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'