OUDTSHOORN NUUS - 'n Video waarin 'n man op Oukersdag dreig om sy kleuter (1) op die teerpad te gooi, het skokgolwe deur die gemeenskap en oor die land gestuur.
In die video, wat in die Oudtshoorn Courant se besit is, word duidelik gesien hoe die man die kleuter hardhandig rondpluk en dreigemente maak terwyl omstanders verbete die kleuter probeer afvat, maar sonder sukses.
Volgens sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is dié 31-jarige man alreeds deur die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings in hegtenis geneem en sal hy op 4 Januarie 2023 in die hof verskyn.
Die ma (21) van die kleuter ter sprake is tesame met haar ander jong seun, tans in 'n plek van veiligheid.
Albei kinders is die 31-jarige man se biologiese kinders en is hy en die kinders se ma reeds vir afgelope sewe jaar in 'n stormagtige verhouding.
Die ouma van die kleuter vertel dat die voorval verlede Saterdagmiddag by haar huis gebeur het.
" My dogter en die twee kinders het by hom permanent gebly, maar sy het die dag besluit om vir ons te kom kuier. Hy wou haar toe ombeskof daar by ons huis kom haal, maar sy het geweier, omdat sy geweet het dat hy haar soos gewoonlik weer sou aanrand.
Toe hy nie sy sin kry nie, het hy die jongste gegryp en haar in die straat met die kind gaan dreig.
"Oor die jare heen leef ons in vrees vir haar en ons eie lewe omdat ons bewus is hoe hy haar haar abuse - sommer voor ons ook. Hy is 'n gemors wat geen respek het vir my, of my man nie. Ons het al hoeveel sake gemaak, maar dit word net teruggetrek. Op die oomblik het ek ook 'n inderdik teen hom; ek sal maar sien wat van dit kom.
My kind was so 'n mooi jong dame, maar hy het haar letterlik gerinneweer. Ek en my man is albei semi-blind en kan dus nie veel doen as hy soos 'n maniak te kere gaan nie," vertel sy.
Die kleuter se ma se grootmaak-moeder het emosioneel aan die Oudtshoorn Courant vertel dat die breekpunt vir haar was toe sy verlede week haar grootmaak-kind vir die eerste keer in jare, sien huil.
" Sy was al so hardgebak van sy mishandeling dat mens nooit eers 'n traan op haar gesig gesien het nie, maar verlede week het die damwal gebars. Ons kan net hoop dat hy nooit borgtorg kry nie en dat hy gevonnis word. Selfs al kom hy na 'n paar uit die tronk sal ons steeds bang wees, want ons vrees dat hy revenge sal neem."
Billie Claasen, uitvoerende direkteur van die Landelike en Plaaswerkersorganisasie het in 'n verklaring die voorval skerp veroordeel en die gesê dat die owerhede en samelewing onder geen omstandighede sulke optredes kan duld nie.
"Die gebeure van die afgelope week is 'n bron van kommer vir ons armoede-geteisterde gemeenskappe waar geslagsgebaseerde-geweld hoogty vier. Kinders moet beskerm word en nie seergemaak word nie. Te veel onskuldige jong meisies en kinders word vermoor. Dit is soos 'n golf wat ons getref het wat net nie wil ophou nie," lui die verklaring.
Claasen het 'n ook 'n beroep op die polisie sowel as die departement van maatskaplike ontwikkeling gedoen vir daadwerklike ingryping om kinderveiligheid te verseker.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'