Update
LADISMITH NUUS - Een van die oorledenes tydens 'n noodlottige botsing Sondagmiddag net buite Ladismith was 'n 17-jarige meisie, Chriszelda Jacobs.
Die ander oorledene was Hendrick (Bert) Lintveldt (64).
Die botsing het Sondagmiddag omstreeks 16:00 by die aansluiting van 'n toeganspad van die woonbuurt, Sakkiesbaai, en die R62- hoofroete gebeur toe Lintveldt se Nissan-bakkie en 'n BMW mekaar reg van voor getref het.
Volgens voorlopige inligting blyk dit dat Lintveldt by Sakkiesbaai uitgery het en toe deur die BMW wat met die R62 onderweg was, getref is.
Chriszelda was een van 'n groep jong mense en kinders wat agter op die bakkie se oop bak gesit het.
"Chriszelda was 'n voorbeeldige kind. Sy wou net verpleegster word en vir Mammie en Daddy sorg en teruggee wat sy kon," het die bedroefde pa, Henry Jacobs, Maandagmiddag oor sy dogter gesê.
Volgens sy vrou, Zelda, het `n vriendin van die gesin vir Chrizelda en van haar maats `n werkie by Lintveldt gekry. Hy was wyd bekend vir die unieke braairoosters wat hy in die vorm van kitare gemaak het.
Die kinders sou Lintveldt help om 'n aantal nuutgemaakte braairoosters skoon en blink te vryf, die groep van ongeveer agt jongelinge was agter op Lintveldt se bakkie op pad na sy huis toe die botsing plaasgevind het.
Volgens Zelda het die kinders hom dikwels gehelp en soms by sy huis geswem as hulle klaar gewerk het. Chriszelda het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Volgens Sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder van die Suid-Kaap, is Lintveldt per ambulans na die Alan Blyth-hospitaal oorgeplaas waar hy beswyk het. Lede van die gesin wat in die BMW was, is slegs lig beseer. Hulle woon ook in die Ladismith-omgewing.
Volgens die Jacobs-egpaar sal Chriszelda se begrafnis eers die naweek na die Paasnaweek plaasvind aangesien 'n lykskouing hierdie week afgehandel moet word.
Bert Lintveldt met een van die braairoosters waarvoor hy bekend was. Hy is Sondagmiddag in 'n botsing buite Ladimith dood.
Die botsingstoneel Sondagmiddag. Foto's: Deon Meyer
Henry en Zelda Jacobs, die ouers van die 17-jarige Chriszelda wat Sondagmiddag in 'n botsing gesterf het.
Vorige artikel: Twee sterf in botsing
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'