OUDTSHOORN - Wes-Kaapse minister van sport en kultuursake, Ricardo Mackenzie, het die afgelope week se KKNK bygewoon waar hy eerstehands die uitsonderlike lewenskragtigheid, asook ekonomiese impak van die gewilde kunstefees kon ervaar.
Buiten die viering van kultuur is die KKNK een van die Wes-Kaap se suksesvolste feeste met ’n enorme ekonomiese inspuiting vir Oudtshoorn.
Volgens data wat saamgestel is deur Rhodes- en Noordwes Universiteite het die 2024 KKNK ’n direkte ekonomiese inspuiting van tussen R72 en 89 miljoen vir die dorp gebring en R178 miljoen vir die Wes-Kaap. Hierdie syfers reflekteer nie slegs kaartjieverkope nie, maar ook geld wat spandeer is op akkommodasie, restaurante, winkels en toeriste-attraksies.
"Die KKNK is meer as net ’n fees, dit is ’n kragtige dryfveer vir werkskepping, besigheidsgroei en streekontwikkeling. Dit is ’n model van hoe belegging in die kunste ekonomiese inklusiwiteit en toeriste-attraksies aanwakker", noem Mackenzie.
Volgens die 2024 data is daar 200 tydelike poste geskep tydens die fees, tesame met 288 uitstallers, 470 musikante, 280 akteurs en aktrises, 65 straatkunstenaars en 40 tegniese personeel. Die 2025 statistieke behoort heelwat gegroei het.
"Hierdie syfers lig die skaal en reik van die fees uit as dit kom by kreatiewe lewensbestaan."
Algemene bywoning tydens die 2024 fees was by die 86 000 feesgangers, uitsluitende besoekers aan al die gratis publieke vermaak. " ’n Duidelike teken van die fees se groei seder Covid-19. Terwyl ons uitsien na die 30ste KKNK in 2026, vier ons ’n fees wat voortgaan om lewens te verander, loopbane te bou en dorpe soos Oudtshoorn op te hef."
Mackenzie het tydens sy besoek met kunstenaars, feesgangers, borge en die KKNK-bestuur gesels. Hy het ook die amptelike openingskonsert van die KKNK bygewoon. "Kuns bring mense saam oor die grense van taal, agtergrond en oortuigings, en dit is presies wat hier in die hart van die Klein-Karoo gebeur."
Hy het sy besoek afgesluit met ’n besoek aan die Karoo Kaarte staptoer, ’n gemeenskapstorie inisiatief wat die stemme en geskiedenis van Oudtshoorn se mense uitlig.
Fotogalery: Visuele kunsuitstalling 'n moet
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’