OUDTSHOORN NUUS - Sy was ’n omgeemens, verpleegster van formaat en ’n sterk vrou.
So is die oudverpleegster, Elizabeth (Yvonne) Andries (87) van Colridge View, Saterdag tydens haar troosdiens en begrafnisdiens in ’n stampvol Bridgton AGS in huldeblyke beskryf.
Andries was een van die stigterslede van die kerk in die sewentigerjare.
“Ons bring vandag hulde aan ’n held,” het Desmond Alie in sy huldeblyk oor Andries, alom bekend as ‘Ma Von’ gesê.
Volgens Alie was Andries die samebindende faktor, die matriarg, van haar familie.
Sy was tegemoetkomend, maar ’n reguit persoon wat nie geskroom het om haar stem dik te maak wanneer sy oor iets ongelukkig was nie. Sy het ook nie maklik weggebly van die kerk nie en was pynlik netjies.
’n Boesemvriendin van skooldae af, Silla Konnie, het Andries as ’n geseënde vrou beskryf. “Haar kinders was haar trots en sy was ’n vrou met ’n baie goeie hart.”
Volgens haar was sy en Andries van die oudste gedoopte lede van die kerk en vertel hoedat hulle as jong vroue met fietse na Volmoed gery het om Sondagskool te gaan hou.
Angeline Lekay, oudburgemeester van Oudtshoorn, het in haar huldeblyk gesê Andries was destyds die verpleegster van die gemeenskap en net ’n ander ma en ouma vir haar kinders.
’n Groot groep huidige en oudverpleegsters van die Oudtshoorn-hospitaal het met kerse en ’n spesiale lied hulde gebring aan ’n kollega en ook die verpleegsterseed gelees.
Andries word oorleef deur twee kinders, Charmaine en Chris, twee susters, een broer, ses kleinkinders en elf agterkleinkinders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’