OUDTSHOORN NUUS - Die Arbeidshof van Suid-Afrika het onlangs bevind dat Oudtshoorn se voormalige munisipale verkeershoof, Thembuxolo Tyatya, onregmatig in 2018 uit sy pos geskors is en dat hy 'n terugbetaling van die munisipaliteit moet ontvang vanaf die dag van sy skorsing tot en met 2021. Hy moet ook in sy pos waarin hy voor sy skorsing was heraangestel word.
Tyatya is op 19 Januarie 2018 geskors na hy van agt aanklagte van wangedrag deur die munisipaliteit aangekla is.
Na sy skorsing is hy na die Suid-Afrikaanse Arbitrasie raad om sy saak daar te gaan stel. Hier is bevind dat hy onregmatig geskors is en dat hy veronderstel was om in 2021 weer in sy pos as verkeershoof aangestel te word.
Die munisipaliteit moes ook, volgens dié verslag, R360 000 (dit is ses maande terugbetaling), aan Tyatya uitbetaal.
Volgens 'n betroubare bron is Tyatya in 2021 tydelik as vloot-bestuurder aangestel hangende die hersieningsaansoek wat deur die munisipaliteit gebring is.
Die munisipaliteit het egter die hersieningsaansoek later onttrek, maar die saak was glo reeds in die Arbeidshof aan die gang.
Luidens die hofdokument wat in Oudtshoorn Courant se besit is, moet die munisipaliteit nie net ses maande se gelde aan Tyatya terugbetaal nie, maar moet hulle sy salaris vir die tydperk van sy skorsing (2018 tot 2021) uitbetaal.
'n Navraag is aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur, maar hulle het teen druktyd nie reageer nie.
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit het by navraag gesê die munisipaliteit lewer nie kommentaar op spesifieke individue of personeelaangeleent-hede nie.
"Ons bly verbind tot die handhawing van die privaatheid en vertroulikheid van al ons personeel."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’