OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn Akademie Tuimel en Trampolien is nie net 'n gimnastiekskool nie, maar 'n plek waar passie vir die sport groei en ontwikkel word.
Martina de Koker, wat self vir 24 jaar gimnastiek beoefen het, het die akademie in 2012 gestig met die doel om kinders in Oudtshoorn die geleentheid te bied om dié veeleisende maar lonende sport te ervaar.
Sy dien ook op die komitee van die Eden-gimnastiekunie.
De Koker, wat haar opleiding onder Phillip Venter en Riaan Swanepoel ontvang het, sê haar liefde vir gimnastiek het deur al die jare net sterker geword. "Ek het ook ballet en moderne danse beoefen, maar artistieke gimnastiek was nog altyd my ware passie," sê sy.
Artistieke gimnastiek is 'n dinamiese dissipline waarin atlete kort roetines op verskeie apparate uitvoer. Die akademie bied ook tuimel-, trampolien, en vloer-gimnastiek aan. Haar jongste leerder is tans net vier jaar oud.
Pharryn Arends, wat ook as student by De Koker begin het, is haar regterhand by die akademie.
"Sy help ongelooflik baie. Dis soms moeilik om by almal gelyk te wees, en daarvoor is Pharren daar. Sy weet wat sy doen en hoe om met die kinders te werk en hulle is mal oor haar."
Wat die akademie egter werklik laat uitstaan, is die uitsonderlike prestasies van haar leerders.
"Verskeie van ons gimnaste het al menige kere Wes-Kaap verteenwoordig en is al gekies vir die SA kampioenskappe. Dit is 'n bewys van hul harde werk en toewyding."
Benewens prestasie, is die voordele van gimnastiek oorvloedig. "Gimnastiek verbeter soepelheid, spierkrag, balans en uithouvermoë.
Maar dit help ook kinders om lewens-vaardighede aan te leer, soos deurset-tingsvermoë, fokus en selfvertroue. En vir my is dit ongelooflik belonend om te sien hoe 'n kind se oë ophelder wanneer hulle uiteindelik iets regkry waarmee hulle lank gesukkel het. Ek is hul grootste ondersteuner en grootste aanhanger. Ek glo in elkeen se potensiaal en weet waartoe hulle in staat is."
- Vir meer inligting kontak haar by 079 840 6749.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’