LADISMITH NUUS - Die Evangelies Lutherse Kerk se Ladismith-parogie maak gereed om hierdie week, vanaf 26 tot 31 Mei, sy 170ste bestaansjaar met dankbaarheid en feesvreugde te herdenk.
Volgens Maryna September, feeskoördineerder, beloof die feesweek om 'n betekenisvolle samekoms van geloof, herinneringe en gemeenskapsgees te wees.
Sandra Vorster, die gemeente se leraar, sê sy is baie opgewonde oor die beplande feesvieringe.
Sy beskryf dit as 'n besondere mylpaal in die gemeente se geskiedenis en sien daarna uit om die geleentheid saam met lidmate, oudlidmate, predikante en die breër gemeenskap te vier.
"Dit is 'n viering van God se trou oor 170 jaar. Ons sien daarna uit om mense bymekaar te bring in geloof, blydskap en dankbaarheid."
Die feesprogram het Dinsdag begin met 'n openingserediens waartydens deken Jacques Grispe van die Moria-kring teenwoordig sal wees.
Woensdag het die bekendstelling van 'n feesboek plaas gevind en vanaand, Donderdag 28 Mei, gaan kerkgangers sosiaal verkeer.
Vrydag 29 Mei word 'n dans in die stadsaal aangebied, terwyl Saterdag 30 Mei 'n dag vol pret en vermaak by die kermis op Towerkoppark beloof.
Die dag word afgesluit met 'n gospelvertoning in die plaaslike stadsaal.
Die hoogtepunt van die feesvieringe vind op Sondag 31 Mei plaas met die groot 170-jaar-herdenkingsdiens.
Die gemeente nooi die hele gemeenskap hartlik uit om deel te wees van dié besondere geleentheid.
Die tema van die fees, Growing Together in Christ, weerspieël die gemeente se voortdurende strewe om saam in geloof en liefde te groei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’