OUDTSHOORN NUUS - 'n Stapper wat onlangs in Gamkaskloof, ook bekend as Die Hel, gaan uitspan het, was aangenaam verras toe sy 'n luiperd raakgeloop het.
Marinette Joubert het ’n foto van die rare ontmoeting op Facebook geplaas. “Die luiperd is helder oordag deur gaste ongeveer 25 km vanaf die Swartbergpas gesien. Ons vermoed dit is ’n wyfie. ’n Paar weke gelede is ’n wyfie met welpies ook in die gebied opgemerk,” het sy geskryf.
Aryna Edwards wat die luiperd gesien het, het aan Oudtshoorn Courant gesê sy voel bevoorreg om die pragdier te kon sien. “Ek kon ’n hele rukkie met die luiperd, wat baie skugter was, gesels. Dit was ’n belewenis. Gelukkig het ek stadig gery en kon so 20 m van die dier stop en vra om verby te kom.”
By navraag het Luke Folb van CapeNature verduidelik dat hierdie habitat baie geskik is vir luiperds en dat dit nie ongewoon is om luiperds hier aan te tref nie.
“Die Landmark Foundation het die Swartberge geïdentifiseer as een van 14 luiperdnodes in die Wes- en Oos-Kaap. Gamkaskloof is robuus en onverstoord wat goed is vir luiperds aangesien hulle geneig is om erg veranderende habitatte te vermy, veral waar baie menslike aktiwiteite voorkom. Berggebiede is belangrik vir die spesie, maar die moeilike terrein en beperkte padtoegang beteken dat hul min deur mense opgemerk word.”
Die Cape Leopard Trust het in 2012 asook 2022 grootskaalse strikkamera-opnames in die Klein Karoo gelei, met 'n verdere opname in 2017 deur Panthera.
Die 2022 opname is na 20 weke se dataversameling afgehandel met goeie resultate. Daar is gebruik gemaak van 64 pare kameras wat oor ongeveer 2 000 km² van die sukkulente Karoolandskap versprei was, insluitend beskermde gebiede soos die Swartberg, Gamkaberg, Ruitersbos Natuurreservaat, kommersiële plase, asook gemeenskaplike grond. Die navorsing het by 47 van die 64 kameraliggings luiperds opgemerk. Die 600 luiperd-foto’s is nagegaan en daar is 37 verskillende individue uitgeken.
Volgens die Cape Leopard Trust is agt hiervan ook in 2017 in die gebied opgemerk, wat goeie nuus is. Een spesifieke mannetjie en een spesifieke wyfie is opgemerk in al drie navorsingsprojekte wat gedoen is (2012, 2017 en2022).
“Hierdie twee luiperds was waarskynlik jong volwasse katte in 2012 wat hul ouderdom ongeveer 12 jaar maak (in 2022). Dit is indrukwekkend aangesien luiperds gewoonlik tussen 12 en 15 jaar oud word, maar luiperds wat buite beskermde gebiede woon waar meer gevare voorkom, het meestal 'n korter lewensduur,” aldus 'n Cape Leopard Trust artikel. (https://capeleopard.org.za/news-media/news/story/camera-trapping-in-the-little-karoo-striped-horses-leopard-tortoises-and-spotted-cats)
Volgens Forb word lede van die publiek aangemoedig om voorvalle waar luiperds opgemerk word, aan te meld op iNaturalist aangesien die data behulpsaam kan wees met moniteringsprojekte.
• Besoek www.capeleopard.org.za vir meer inligting oor die Cape Leopard Trust.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’