Die werk sou aanvanklik hierdie jaar in Mei begin het, is toe uitgestel tot Oktober maar vanweë finansiële komplikasies sal dit nou waarskynlik volgende jaar in Maart begin.
Die kontrak is toegestaan aan SNA Civil & Structural Engineers en sal werk voorsien aan sowat 200 mense vir 'n tydperk van 18 maande.
"Dis ons beleid om soveel werk moontlik aan plaaslike arbeiders te gee," het mnr. Theuns Lewis, inwoner van De Rust en resident- ingenieur van SNA gesê. "Ons behou uit die aard van die saak ons sleutelpersoneel, maar sal plaaslike mense gebruik vir betonwerk, draad span, ensovoorts en sal ook voortdurend opleiding verskaf aan algemene handlangers wat weer dié ondervinding kan gebruik in die toekoms."
Hy verduidelik dat werk aan die pad redelik arbeidintensief sal wees aangesien twee brûe gebou moet word en by die vierrigtingstop in Blanco voorsiening gemaak moet word vir addisionele teenmiddels om die gedurige wegspoel van die pad te voorkom.
Die huidige pad se belyning is ook baie laag vir 'n gebied met 'n redelike hoë reënval, wat veroorsaak dat reënwater maklik na die pad vloei. Deel van die opknapping sal die verhoging van die pad se belyning insluit. Daar word ook beplan om die pad te verbreed.
"Padveiligheid is 'n voorvereiste vir enige konstruksie en ons sal ons huiswerk deeglik moet doen om die pad se verkeer so normaal as moontlik te laat vloei." het hy bygevoeg.
SNA Civil & Structural Engineers het grootskaalse opknapwerk aan die N1 gedoen en is tans besig met rehabilitasiewerk aan die N10 tussen Tarkabrug en Cradock, waar hulle ook die bestaande padplaveisel versterk en die kroonlaag herwerk en versterk.
Die lughawepad is gereeld in die nuus as gevolg van ernstige ongelukke by die kruising van die R404 en die R102 wat George met Groot-Brakrivier verbind. Robin Carlisle, Wes-Kaapse minister van ver-
voer, het na 'n aantal ernstige ongelukke verlede jaar gelas dat bykomstige padtekens en nuwe strepe by die kruising aangebring word.

Die kruising van die R404 en die R102 by die George-lughawe het al verskeie noodlottige ongelukke tot gevolg gehad soos hierdie een verlede jaar toe ‘n onderwyser van George dood is. Die R404 word aanstaande jaar deeglik opgeknap. Foto: Hannes Visser