OUDTSHOORN NUUS - 'n Bekommerde inwoner van De Rust vra wyd en syd vir hulp oor die losloperdiere wat in die pad en padreserwes aan die begin van De Rust, van Oudtshoorn se kant af, wei.
"Die diere wei hier langs die pad, sonder toesig. Dit hou 'n groot gevaar vir padgebruikers in. 'n Groot ongeluk gaan nog hier gebeur as die wetstoepassers nie optree nie, wie gaan die verantwoordelikheid neem," vra dié inwoner.
Na vele klagtes wat hy van inwoners aangehoor het, het hy dit op homself geneem om die saak namens De Rust-inwoners te beveg en is hy selfs bereid om so ver te gaan as om 'n interdik van die hof te vra om iets daaromtrent te doen. Hy het ook verskeie departemente binne die Oudtshoorn-munisipaliteit gekontak en selfs die hulp van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, ingeroep waarna hy na die departement van vervoer en openbare werke se verkeerswetstoepassingsafdeling verwys is. Volgens hom neem niemand verantwoordelikheid om die probleem aan te spreek en op te los nie.
"Oudtshoorn- munisipaliteit se bestuurder van verkeer het in 'n e-pos aan my verduidelik dat provinsiale verkeersbeamptes die Oudtshoorn munisipale diereskut bel wanneer diere langs die pad gevind word.
"Hy het ook genoem dat die provinsiale verkeer verantwoordelik is vir die patrollering van die pad, maar die provinsiale verkeer sê weer dat dit binne die grense van Oudtshoorn-munisipaliteit val," sê die inwoner.
Volgens die inwoner is die wetlike bepalings baie spesifiek wanneer dit losloperdiere behels:
Die probleem is op die N12 - TR3303-hoofweg. Oudtshoorn-munisipaliteit is die padowerheid van hierdie pad van De Rust, en is verantwoordelik vir die instandhouding sowel as die wetstoepassing van enige wetlike bepalings op hierdie pad. Die Padverkeerswet 93 van 1996, Regulasie 2000 vereis dat die eienaar van loslopende diere moet verseker dat diere buite die padreserwe bly en diere word slegs in die padreserwe toegelaat onder gekontroleerde toestande wanneer hulle uit kampe verskuif word.
Die departement van verkeer en openbare werke het ook op die noodkreet van die inwoner gereageer en hom ingelig dat RIMS (Road Incident Management System) bepaal dat die munisipaliteit die eerste respondent is en provinsiaal die tweede respondent van voorvalle en verkeersverwante aangeleenthede wanneer dit binne die grense van 'n munisipaliteit plaasvind.
"Die departement van verkeer en openbare werke in Oudtshoorn het waarskuwingsborde van hul departement opgestel om motoriste te waarsku oor die gevaar aan die begin van De Rust," sê die inwoner.
Volgens hom het die verkeer geweldig toegeneem en die pad dra swaar verkeer, veral tydens vakansietye, soos voorheen. "Daar was byna 'n noodlottige ongeluk gedurende die Desembervakansie, waar 'n motor met 'n woonwa amper in die rondloperdiere vasgery het. Die dilemma is dat die waarskuwingsborde reeds opgerig was, motoriste steur hulle nie altyd aan hierdie tekens nie," sê die inwoner.
Oudtshoorn Courant het op 12 Januarie 'n skrywe aan Oudtshoorn-munisipaliteit gerig waarin die bekommernis van die inwoner verduidelik word. Pat Jordaan noem dat die hoofroetes deur provinsiale verkeersbeamptes gepatrolleer word, ofskoon die paaie binne die Oudtshoorn-munisipale area val en die diereskut loslopende diere binne die munisipale gebied, gaan haal.
Op reaksie van die munisipaliteit se antwoord sê die inwoner dat hierdie probleem al vir 'n jaar sloer. "Pat Jordaan hardloop weg van sy verantwoordelikheid van die ordonnansie wat aan hom gekwoteer is. Dit laat my met geen ander keuse as om 'n interdik van die hof te kry om hierdie aan-geleentheid te beveg nie," het die inwoner gesê.
Perde, skape, bokke en beeste wei op die padreserwes aan die begin van De Rust vanaf Oudtshoorn. Foto's: verskaf
Perde, skape, bokke en beeste wei op die padreserwes aan die begin van De Rust vanaf Oudtshoorn. Foto: verskaf
Perde, skape, bokke en beeste wei op die padreserwes aan die begin van De Rust vanaf Oudtshoorn. Foto's: verskaf
Perde, skape, bokke en beeste wei op die padreserwes aan die begin van De Rust vanaf Oudtshoorn. Foto's: verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'