Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Nie almal het die moed of vasberadenheid om 'n berg soos Kilimanjaro aan te durf nie, maar vir Lorna Mooney (60) van Oudtshoorn was dit 'n droom wat sy vasbeslote was om te bewaarheid.
Op 21 Junie, haar 60ste verjaarsdag, het sy dié indrukwekkende mylpaal bo-op Afrika se hoogste berg, Mount Kilimanjaro, gevier.
Die uitdagende sewedae staptog neem deelnemers deur verskillende terreine wat wissel van digte reënwoude, klipperige roetes, tot sneeubedekte en ysbelaaide hoogtes. Kilimanjaro se piek lê op 'n hoogte van 5 895 meter bo seespieël en word internasionaal beskou as een van die mees ikoniese staptogte ter wêreld.
Mooney vertel dat haar liefde vir stap spruit uit haar oorlede pa se passie vir die buitelewe. Sy is al vir jare 'n entoesiastiese stapper, maar 'n rug- en nekbesering het haar vir 'n tyd lank gekortwiek. In Oktober verlede jaar het sy egter besluit om haar droom na te jaag met die hulp en aanmoediging van Fikile Blaauw, wat haar gehelp het om haar fiksheid op te bou. Die voorbereiding het lang staptogte deur die Swartbergpas en omliggende berge in die Klein-Karoo ingesluit.
"Dis nie net 'n fisiese klim nie, dit is emosioneel uitmergelend. Jou ingesteldheid maak 'n reuseverskil," sê Mooney.
"Dit was een van die mees ongelooflike ervarings van my lewe, uitputtend, maar absoluut mooi en bevrydend. Dit is 'n ongelooflike mooi roete. My gids en draers het daagliks 'n oog op my gehou vir hoogtesiekte oftewel, altitude sickness, want dit kan dodelike gevolge hê. Ek was gelukkig dat ek geensins enige simptome op die berg ervaar het nie, maar met my terugkeer het my voorkop en neus bietjie vriesbrand gehad wat gelukkig met 'n spesiale room behandel kon word."
Suurstofvlakke daal met sowat 50% hoe nader 'n mens aan die piek kom, wat daartoe lei dat talle klimmers nie die eindpunt bereik nie. Benewens die risiko van hoogtesiekte, raak baie stappers ook uiters uitgeput weens die dae lange fisieke inspanning.
Mooney het om middernag, 20 Junie, die laaste fase van die klim aangepak. By haar aankoms op die piek is sy deur haar gids met Happy Birthday to You begroet terwyl sy by die bekende bord gaan sit het vir 'n foto en om die asemrowende uitsig te geniet.
"Ek kan nie die gevoel beskryf nie, die adrenalien was hoog en die ongelooflike skoonheid slaan mens se asem weg. Ek wou aan myself bewys ek kon dit doen en toe ek die bekende borde sien toe weet ek, ek het dit gedoen!"
Hoewel die stap nie maklik was nie het sy net aan haarself gesê, jy is gemaak vir die oomblik.
"Ek kon eintlik nie glo ek staan op die dak van Afrika omring deur wolke, sneeu en 'n kalmerende stilte nie. Ongelukkig kan stappers nie baie lank op die piek vertoef nie, mens neem basies jou foto's en maak reg om weer af te gaan. Ek kan bevestig dit is nooit te laat om mens se drome na te jaag nie, begin net, ouderdom definieer nie jou perke nie."
Volgens Mooney was die ongemak, vroeë oggende en laat aande beslis die moeite werd.
"Die laaste nag is uitputtend, jy klim sowat 1 285 meter in ysige temperature van ongeveer -10°C om die piek te bereik. Maar vir dié wat dit maak, is Uhuru-piek absoluut lonend, 'n sonsopkoms oor Afrika vanaf die hoogste punt van die kontinent is onbeskryflik mooi."
Sy beklemtoon dat deeglike voorbereiding noodsaaklik is. "Oefen gereeld, respekteer die berg, stap stadig en glo in jouself. Die berg gaan jou beslis toets, maar dit sal ook jou ware deursettingsvermoë wys."
Kilimanjaro is die grootste dormante vulkaan in Tanzanië en die hoogste berg in Afrika. Dit word ook 'n stratovulkaan genoem en bestaan uit drie keëls naamlik Kibo, Mawenzi en Shira. Kibo is die piek en die hoogste van die drie vulkansiese formasies.
Fotogalery Lorna verjaar op Kilimanjaro:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’