OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat die liggaam van ’n vrou gisteroggend, 23 September, uit die kanaal by Volmoed gehaal is.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder is die polisie gisteroggend omstreeks 10:00 na die toneel ontbied toe die liggaam deur ’n lid van die publiek ontdek is.
"Polisieduikers het die liggaam later uit die water verwyder. Ten tyde van die ontdekking was die vrou in ’n blou jeans en ’n bruin hemp geklee en reeds in ’n vroeë stadium van ontbinding."
Die identiteit van die oorledene moet nog vasgestel word.
Volgens Spies duur die soektog na ’n moontlike vermiste persoon voort.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’