OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot groep lewensredders het Vrydag 3 Januarie uit protes oorkant die Oudtshoorn-munisipaliteit hulself sigbaar gemaak deur byna die heeldag onder die bome oorkant die munisipaliteit te sit.
Hulle sê hulle is op 'n kontrak deur 'n diensverskaffer van die Oudtshoorn-munisipaliteit aangestel, maar dat hulle nié, soos ooreengekom is, betaal is nie.
Die groep moes ook Donderdagaand 2 Januarie met 'n skok besef dat hulle nou op straat sit nadat hulle uit hul verblyfplek geskop is. Die oorgrote meerderheid is afkomstig van ander provinsies. Hulle sit tans met hande in die hare oor hul situasie. Die lewensredders sê hulle het almal in die vakansieseisoen diens by die onderskeie swembaddens in die dorp gedoen.
“Die diensverskaffer is van Kwazulu-Natal afkomstig. "Wat weet hy wat hier in Oudtshoorn aangaan? Ons kry hom ook nie in die hande oor ons geld en verblyf nie," sê een van die mans bekommerd.
Volgens Aurelia Mle, die woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is hulle op kontrak deur 'n eksterne diensteverskaffer, Mzantsi Facilitators, aangestel. "Die Oudtshoorn-munisipaliteit kan dus nie op dié kwessie reageer nie."
Volgens die dokumentasie wat aan die koerant verskaf is, is 'n ene Ntuthuzelo Ngxola die groep se bestuurder. 'n Navraag is aan Ngxola oor die situasie gestuur. Teen spertyd is geen reaksie of kommentaar daarroor ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’