OUDTSHOORN NUUS - Wanneer die wintervakansie aanbreek, sal leerders in Ladismith nie verveeld wees nie, inteendeel, hulle sal aan die lees gesit word!
Die plaaslike biblioteek, in vennootskap met skole in die omgewing, bied vanjaar die eerste volwaardige leeskompetisie vir gr. 7-leerders aan.
Murushda van Heerden, bibliotekaresse by die Ladismith-biblioteek, sê sy is uiters opgewonde oor dié projek.
“Ons kan nie wag om die kinders in die biblioteek te verwelkom, hul liefde vir lees aan te wakker én sommer wenners aan te wys nie,” sê sy.
Die kompetisie sal op Woensdag 2 Julie in die stadsaal in Ladismith plaasvind, met ’n oriënteringsessie vir deelnemende leerders wat die vorige dag, 1 Julie, aangebied sal word.
Daar sal in twee tale meegeding word, Afrikaans en Engels, en skole in die Kannaland-omgewing is genader om gr. 7-leerders vir deelname in te skryf. Daar sal pryse toegeken word vir die eerste, tweede en derde plek, asook ’n spesiale prys vir die mees belowende leser.
Volgens Van Heerden voorsien die biblioteek self die leesstukke en beoordelingskaarte, en onafhanklike beoordelaars sal die deelnemers op grond van spesifieke kriteria evalueer.
Die projek is deel van die Wes-Kaapse regering en Kannaland-biblioteekdienste se strewe om leesgeletterdheid onder jongmense te bevorder.
“Ons weet dat leesvaardighede direk bydra tot leervermoë en akademiese sukses. Tog toon statistiek dat 60% van huishoudings geen ontspanningsleesmateriaal het nie, slegs 14% van mense aktiewe lesers is, en net 5% van ouers gereeld vir hul kinders lees,” sê Van Heerden.
“Ons sien hierdie kompetisie as ’n belangrike begin en hoop om dit in die toekoms uit te brei sodat nóg meer leerders betrokke kan raak.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’