PRINS ALBERT NUUS - Die komitee van die Prins Albert-leesfees moes Dinsdagmiddag, 21 Julie, die moeilike besluit neem om nie vanjaar dié gewilde fees met bekende skrywers aan te bied nie.
Daar is aanvanklik gewag om te sien of Meiringspoort dalk teen September tydelik oop sal wees, maar volgens die departement van infrastruktuur sal die poort waarskynlik eers in Desember tydelik oopgestel word.
Die komitee moes deelnemers uit die Tuinroete en die Oos-Kaap asook besoekers uit daardie streek se veiligheid in ag neem aangesien die Swartbergpas tans die enigste alternatiewe roete is.
"Die risiko van toenemende verkeer oor die pas en die kans dat die pas dalk soos verlede week, kort voor die fees as gevolg van 'n ongeluk gesluit sal wees, is eenvoudig te groot en dus moes ons hierdie moeilike besluit neem," het een van die komiteelede Dinsdag aan Oudtshoorn Courant gesê. Vervoerkostes aan deelnemers wat van groot ompaaie gebruik moet maak om by die fees te kom, was ook 'n kwelpunt.
Skrywers en borge van die fees is Dinsdag in kennis gestel dat die fees in 2027 weer sal voortgaan.
Intussen wil die komitee nie momentum verloor nie en werk hulle aan planne om 'n minifees met skrywers, musikante en deelnemers uit Prins Albert aan te bied.
Die Prins Albert-leesfees is een van die oudste leesfeeste in die land en dit is vir die komitee belangrik dat dit volgende jaar weer moet plaasvind en vanjaar op 'n kleiner skaal met plaaslike mense aangebied word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’