PRINS ALBERT NUUS - Die Prins Albert-leesfees was letterlik een hoogtepunt na die ander vanaf die openingsgeleentheid op Vrydag 30 Augustus tot en met die laaste gesprek en ete op Sondag 1 September.
Met die openingsgeleentheid is die pryswenners van die leesfees se skryfkompetisie aangekondig waarvan vyf uit die twaalf van Oudtshoorn kom.
Die fees het begin met die vertoning van die rolprent, Hans steek die Rubicon oor, maar dit is voor en na die vertoning toegelig met praatjies deur die twee vervaardigers, Corné en René van Rooyen van Red Letter Day Pictures.
Die sewe gespreksessies wat Saterdag plaasgevind het, het van Suid-Afrika se bekende skrywers en digters ingesluit en bywoning van elke gesprek was goed. Die beste bywoning was met die gesprek tussen Chris Vorster (Biografie van Marius Weyers) en Sidney Gilroy sowel as die gesprek tussen Stefaans Coetzee (Onbeskryflike genade en Ses ses) en Anschen Conradie.
Vir die gesprek deur Sally Andrew oor haar resepteboek, Recipes to die live for, en die gepaardgaande ete was bykans al 60 beskikbare plekke bespreek. Die leesfees het met dié gesprek en ete afgesluit.
Ander skrywers wat deelgeneem het was, René Bohnen, Clinton V du Plessis, PP Fourie, Hannes Visser, Riku en Jackie Latti, Elizabeth Eksteen, Nigel Peddie, Andrew Brown, Sally Andrew en Jeanette Ferreira.
Saterdag is afgesluit met ‘n vertoning van gedigte en musiek met Petronel Baard en Hannes Visser en het, soos met die gesprek van Stefaans Coetzee, staande applous ontlok het.
'n Opelug-aanbieding is Saterdagoggend vir die eerste keer as deel van die Prins Albert-leesfees by die Kritikomkoppie buite die dorp aangebied. Digters wat aan die leesfeesprogram deelgeneem het, sowel as plaaslike digters, rymkletsers en dansers het van 07:30 tot 08:30 die sonsopkoms benut om in die amfiteater wat voorheen ‘n gruisgat was, op te tree.
Soos met vorige leesfeeste het die ATKV en Vriende van Afrikaans weer ‘n interessante en inspirerende program vir leerders aangebied wat hulle nie net aanmoedig om te lees nie, maar ook om self aan die skryf te raak.
Volgens die organiseerders was vanjaar se leesfees ‘n groot sukses en sal daar volgende jaar weer van die pragtige Showroom-teater gebruik gemaak word. Die teater behoort aan PACT (Prins Albert Gemeenskapstrust) en word ten volle deur jong mense uit die gemeenskap bestuur en beheer. Die organiseerders is ook uiters dankbaar aan gastehuiseienaars wat buiten vir twee mense, elke skrywer en deelnemer se akkommodasie gratis gegee het.
Datums vir volgende jaar se fees is nog nie bevestig nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’