OUDTSHOORN NUUS - Opvoeders van Oudtshoorn en die groter Eden-Sentraal Karoo onderwysdistrik het verlede Woensdag, 20 Augustus, ’n inspirerende opleidingseminaar bygewoon wat daarop gemik was om onderwysers te bemagtig in hul rol as ondersteuners van leerders.
Die dag is deur Carin Herbst, hoof van gespesialiseerde leerder- en opvoederondersteuningsdienste, geopen, waarna Jewel Jonkers, distriksdirekteur, ’n motiverende boodskap aan die gehoor oorgedra het.
Internasionale kundigheid
Die hoofspreker van die dag was ’n internasionaal erkende spesialis in leerondersteuning, dr. Esther Marloth. Sy het haar dekades lange ervaring met die gehoor gedeel. Marloth, wat tans in Duitsland woon en ses tale magtig is, waaronder Afrikaans, Engels, Noord-Sotho, Zulu, Duits en Russies, het opvoeders geboei met haar insigte oor breindominansie, geheueprosesse, gedragsuitdagings en wiskundige leerhindernisse.
Sy het ook praktiese strategieë gedeel om leerders te motiveer en beklemtoon dat elke leerder belangrik is, en dat opvoeders die vermoë het om ’n werklike verskil te maak. Haar boek, The Identification and Support of Barriers to Learning, was tydens die seminaar te koop beskikbaar.
Plaaslike insette
Lizaan van Heerden, ’n privaat remediërende onderwyseres, het waardevolle wenke oor die boublokke van leer en die hantering van skolastiese uitdagings in die klaskamer verskaf. Dr. Ewald Crause, ’n voorligtingsielkundige van George, het opvoeders bekendgestel aan die rol van kunsmatige intelligensie (KI) in die onderwys met sy sessie Wat indien beplanning vir ’n leerder slegs 60 sekondes neem?
Kultuur en gemeenskap
Die program is verder verryk deur opwindende optredes: Saturnus se trompoppies, die Vaardigheidskool se Valkies-groep met hul energieke gumboot-dans, asook uitstallings deur die Vaardigheidskool, Van Reede Skool se Bronneklas-leerders en die Oudtshoorn-biblioteek.
Die dag is op ’n feestelike noot afgesluit met gelukstrekkings wat moontlik gemaak is deur plaaslike besighede.
Die seminaar is met groot toewyding deur beamptes van die Oudtshoorn-onderwyskantoor gereël.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’