OUDTSHOORN NUUS - Aurial Kollege op Oudtshoorn het Saterdag 23 September hul jaarlikse "Poetry Slam" aangebied - 'n absolute emosionele affêre met die jongelinge se woorde wat in elke bors in die gehoor gaan sit het.
Vooraf is oudisies gehou met leerders wat hul eie, oorspronklike gedigte moes voorlees om te kwalifiseer vir die eindrondte wat Saterdag gehou is.
Leerders van Aurial Kollege, Bridgton Senior Sekondêr, Langenhoven Gimnasium, Hoërskool Oudtshoorn, Môrester Senior Sekondêr, Protea Hoërskool en Fezekile Hoërskool het deelgeneem aan die dag. Dit was die vierde agtereenvolgende jaar dat hierdie kompetisie aangebied is.
Die wenner van die GET-afdeling, wat graad 8 en 9-leerders insluit, is Felicity Ann Prins van Aurial Kollege. Die wenner van die FET-afdeling, wat leerders in graad 10 tot 12 insluit, is Mckellen Botha, ook van Aurial Kollege.
EDENfm was met die dag ook daar en sal die wenners se gedigte in komende weke op radio uitsaai. Die wenners sal dan ook aan volgende jaar se kompetisie deelneem.
Volgens die skool se prinsipaal, Karin Alexander, sou die skool nooit kon droom dat die "Poetry Slam" so 'n groot sukses sal wees nie. "Die sukses word alles toegeskryf aan 'n 'gedigte' span professionele, plaaslike kunstenaars en borge wat glo in die ontwikkeling van ons dorp se leerders," het sy gesê.
Alexander sê Aurial Kollege se visie vir die projek is om aan leerders die geleentheid te bied om deur middel van digkuns nie net alleen hul talent vir skryf ten toon te stel nie, maar ook om 'n positiewe bydrae te maak vir die bewaring en bevordering van kultuur in die gemeenskap.
Die wenner van die FET-afdeling wat leerders in graad 10 tot 12 insluit is Mckellen Botha van Aurial Kollege.
Naphtaniel Damons van Protea Hoërskool dra sy gedig passievol voor.
Die wenner van die GET-afdeling wat graad 8 en 9-leerders insluit is Felicity Ann Prins van Aurial Kollege.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’