OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n voormalige munisipale amptenaar van Prins Albert, Richard Franzen, wat van verkragting van 'n skoolmeisie aangekla word, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere verhoor tot later vanjaar uitgestel.
Dit volg nadat twee getuies nie by die hof opgedaag het nie. Magtiging van lasbriewe vir die arrestasie van die twee getuies is deur die hof gegee. .
Richard Franzen, se regsverteenwoor-diger, Christo van der Bergh, het die lasbriewe aangevra na die skoolhoof van Hoërskool Swartberg op Prins Albert, Richard McNight, en Carlen Baadjies, die eerste persoon aan wie die klaagster die verkragting aangemeld het, nie by die hof opgedaag het nie.
Die klaagster beweer dat Franzen haar in April 2015 saamgeneem het na sy huis om glo boeke te gaan haal wat hy na die munisipaliteit moes neem. Hy het toe glo sy huis se voordeur gesluit, haar met toue vasgebind en verkrag.
Franzen pleit onskuldig en het getuig dat dit nie waar is nie omdat sy baba-oppasser ook die betrokke dag in die huis was.
Dié vrou, Cornelia Maritz, was Maandag een van 'n aantal verdedigingsgetuies wat na die getuiebank geroep is, maar sy kon nie lig werp op die dag se gebeure nie.
'n Nutsman, Herman Gelant, het getuig dat hy die dag geroep is om 'n lekkasie in die huis van Franzen te herstel en dat Franzen vir hom die huis kom oopsluit het. Terwyl hy besig was met sy werk het 'n paar skoolkinders daar aangekom en vir water gevra. Volgens hom was die klaagster een van hulle.
Hy kon sien hoe sy in die huis rondloop en rondkyk terwyl die beskuldigde buite die huis was.
'n Oudkollega van Franzen, Ferdy Willemse, het getuig dat die klaagster "meer as een keer" by die munisipaliteit gekom het.
Hy het haar op 'n keer in Franzen se kantoor gekry. Die klaagster het dit ten tyde van haar getuienis ontken.
Nog 'n vriend van die beskuldigde, Adriaan Lodewyk, het getuig dat hy in 2015 op die dag van die Hoërskool Swartberg se matriekafskeid, saam met Franzen gestap en toe iemand na die beskuldigde hoor roep het. Volgens hom was dit die klaagster wat Franzen toe 'n drukkie gegee het en weer weggestap het.
Die saak is vir verdere verhoor en moontlik slotbetoë tot 4 September uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'