OUDTSHOORN NUUS - ‘n Lasbrief is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof uitgereik vir ‘n 17-jarige jeugdige van Kaapstad. Hy is een van die tien verdagtes wat aangekla word van gewapende roof by die SWD-groentemark in Oudtshoorn, nadat hy weer nie by die hof opgedaag het nie.
Die tien mans word daarvan aangekla dat hulle op 22 Oktober verlede jaar werknemers van die groentemark met vuurwapens gedreig, vasgebind en van sowat R30 000 kontant en vyf selfone beroof het.
Die eerste agt is nog dieselfde dag met al die geld, vuurwapens en selfone in hul besit naby Prins Albert in hegtenis geneem. Die ander twee ‘n paar dae later.
Staatsaanklaer Brandon Smith, het die hof versoek om ‘n lasbrief te magtig vir die inhegtenisneming van die agtienjarige verdagte van Kaapstad aan wie vroeër borgtog toegestaan is. Hy was Woensdag vir ‘n derde keer afwesig met ‘n verskoning dat hy nie geld gehad het om vanaf Kaapstad te kom nie.
Twee van die ander beskuldigdes het die hof ook meegedeel dat hulle nie verder van regshulp gebruik wil maak nie en hul eie regsverteenwoordigers wil aanstel.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het die saak tot 20 September uitgestel en aan die twee beskuldigdes gesê dat hulle besig is om hul eie saak te vertraag.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'