OUDTSHOORN NUUS - Die personeel van die Oudtshoorn-landdroshof het verlede Vrydag in die C-hof afskeid geneem van landdros The-olen November wat ‘n permanente betrekking as landdros in Kuilsrivier aanvaar het.
Die areahofbestuurder, Royden Boonzaaier, het November bedank vir die tyd wat hy op Oudtshoorn werksaam was en hom alles van die beste toegewens.
“Ons het baie van u geleer en dankie vir die feit dat u al die uitdagings verstaan het,” het Boonzaaier gesê.
Volgens Lisa Cremer, distrikshofbeheeraanklaer, is dit die tweede keer dat afskeid geneem word van November. Die eerste keer was toe hy as staatsaanklaer op Calitzdorp aangestel is.
Volgens haar het hy die potensiaal om nog “baie ver te kom”.
Ao. Frederick van Rooyen, het namens die ordonnanse, November bedank vir die manier waarop hy hulle behandel het.
Volgens hom was November nie iemand met ‘n hart van klip nie en almal met respek behandel.
Hy het November gevra om die Karoo se naam in die Kaap hoog te hou.
Pinky Mpiko en Vuyo Klaasen het namens die tolke hul waardering uitgespreek vir alles wat hulle van November geleer het. “Dit het ons vertroue gegee en ons verloor vandag ‘n juweel,” het Mpiko gesê.
Volgens Klaasen het November die tolke gemotiveer en hom gevra om die persoon wat hy is te bly.
‘n Bewoë November het op sy beurt almal bedank vir die aangename tyd wat hy as landdros op Oudtshoorn geniet het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'