KANNALAND NUUS - Na 'n periode van vier jaar en twee maande het landdros Dmitri Mitchell besluit om Ladismith te verlaat en as advokaat by die Balie aan te sluit.
Daar is in Mei 2021 berig dat Mitchell op daardie stadium die jongste landdros in die Wes-Kaap was.
Mitchell het gesê hoewel sy verblyf in Ladismith baie vervullend was, het hy nou besef dat dit tyd geword het dat hy terugkeer na Kaapstad om meer betrokke te wees in die lewe van sy driejarige dogtertjie.
Sy missie toe hy in Ladismith aangekom het was duidelik.
"Ek is nie hier om vrees in te boesem nie, ek is hier om vertroue in die regstelsel in te boesem."
Dit is iets wat hy werklik reggekry het. Mitchell het ook by geleentheid as motiveringspreker by die plaaslike skole opgetree. Hy het veral bekend geword vir sy aanhaling: "Short term glory leads to long term problems."
Volgens hom is van die sake wat hy die meeste moes aanhoor die van huishoudelike geweld, kinderhofsake en dronkbestuur. Hy het sy tevredenheid met die nuwe wetgewing oor huishoudelike geweld uitgespreek. Dwelms en die toename daarvan in Kannaland, asook die uitwyking van dwelmbase na landelike gebiede strek hom ook tot kommer.
Mitchell noem dat wanneer hy aan die personeel van sy kantoor dink hy nog net lojaliteit en betroubaarheid van hulle ontvang het.
"Dit is eintlik 'n hartseer werklikheid dat ek van hulle moet afskeid neem, maar die tyd daarvoor het nou aangebreek. Ek moet ook noem dat ek ontsettend baie van ander regsgeleerdes met wie ek saamgewerk het geleer."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’