OUDTSHOORN NUUS - Kangovalleie landbouvereniging het vir ‘n vroeë Kersfees gesorg toe hulle die Kammaland kleuterskool verras het met speelgoed wat deur personeel aangewend kan word vir vroeëkindontwikkelingsprogramme.
Hennie-Edna Janse van Rensburg, voorsitter van die landbouvereniging sê die skenking is hulle bydrae om in die gemeenskap terug te ploeg.
Die skooltjie met twee leerkragte, Katriena Maxim en Magrieta Kammies, bedien kinders uit die plaaslike omgewing en het 'n leerdertal van tussen 20 en 30 kleuters.
Die speelgoed is aangekoop uit geld wat tydens die landbouvereniging se jaarlikse landbou-ekspo ingesamel is.
Verskeie ander skole in die omgewing het reeds baat gevind by die landbouvereniging se skenkings.
Die Kangovalleie landbouvereniging hou op 5 Oktober ‘n pretgholfdag as fondsinsamelingspoging, waarvan n gedeelte weer in gemeenskapsinisiatiewe teruggeploeg sal word.
Vir navrae kontak Kobus Theron by 079 619 0124.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'